Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:11-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Kyk hoe beloon hulle ons nou! Hulle kom om ons uit u land wat U vir ons gegee het, te verdryf.

12. Ons God, sal U nie oor hulle oordeel nie? Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.”

13. Terwyl die manne van Juda met hulle vroue, kinders en suigelinge voor die Here gestaan het,

14. het die Gees van die Here in die vergadering oor een van die manne gekom. Sy naam was Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, ’n Leviet uit die nageslag van Asaf.

15. Hy het gesê: “Luister, alle inwoners van Juda en Jerusalem! Luister, koning Josafat! Dit is wat die Here vir julle sê: Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.

16. Môre moet julle teen hulle uittrek. Julle sal hulle teëkom wanneer hulle opkom teen die pas van Sis, by die einde van die vallei wat uitmond op die Jeruelwoestyn.

17. Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle, inwoners van Juda en Jerusalem. Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!”

18. Koning Josafat het toe met sy gesig na die grond toe gekniel. Al die inwoners van Juda en Jerusalem het ook so gemaak en die Here aanbid.

19. Die Leviete van Kehat en die Koragiete het opgestaan om die Here die God van Israel met oorgawe te prys.

20. Vroeg die volgende môre het die leër van Juda uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Op pad sê Josafat: “Luister na my, almal van Juda en Jerusalem! Glo in die Here julle God, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20