Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:12-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Is die Abana en Parpar van Damaskus nie beter riviere as al die riviere van Israel saam nie? Hoekom kan ek my nie in een van hulle gaan was en so gesond word nie?” Naäman het toe omgedraai en in woede weggegaan.

13. Maar sy amptenare het probeer om hom te oortuig en gesê: “Meneer, as die profeet gesê het dat u een of ander moeilike ding moes doen, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy sê: ‘Gaan en was jou en jy sal gesond word’?”

14. Naäman het toe afgegaan na die Jordaanrivier toe en hom sewe keer in die rivier gewas, soos die man van God hom beveel het. Toe word sy vel gesond soos dié van ’n jong seun s’n. Hy was volkome genees!

15. Naäman en sy hele gevolg gaan toe terug na die man van God toe. Hy het voor hom gestaan en gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel. Aanvaar asseblief my geskenk.”

16. Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die Here leef, Hy vir wie ek dien, ek sal geen geskenke aanvaar nie.” Naäman het daarop aangedring dat hy die geskenk aanvaar, maar Elisa het geweier.

17. Naäman sê toe: “As u dit nie wil neem nie, sal u toelaat dat ek twee muilvragte grond kry om saam te vat? Van nou af sal ek nooit weer brandoffers of ander offers aan enige god bring nie as net aan die Here.

18. Maar mag die Here my vergewe ten opsigte van hierdie één ding: Wanneer my heer die koning ingaan in die tempel van die god Rimmon om daar te aanbid en op my arm leun, mag die Here my vergewe wanneer ek ook moet buig in die tempel van Rimmon.”

19. “Gaan in vrede,” antwoord Elisa. Naäman het toe sy terugtog begin.Toe hy ’n entjie weg was,

20. sê Gehasi, die dienaar van Elisa die man van God, vir homself: “My heer moes nie toegelaat het dat hierdie Arameër Naäman weggaan sonder om ’n geskenk te aanvaar uit alles wat hy saamgebring het nie. So seker as die Here leef, ek sal hom agternasit en iets by hom kry.”

21. Gehasi het hom toe agternagesit.Toe Naäman sien hoe hy agter hom aan hardloop, klim hy af van sy wa en gaan om hom te ontmoet. “Is daar iets verkeerd?” vra Naäman.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5