Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:7-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Toe die leiers die brief ontvang, het hulle die koning se seuns geneem en al 70 doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en dit na Jehu in Jisreël gestuur.

8. Die boodskapper het gekom en gesê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring.” Jehu beveel toe: “Sit dit in twee hope by die poort van die stad en los dit daar tot môre-oggend.”

9. Die volgende oggend gaan hy buitentoe en gaan staan daar in die poort. Hy sê vir die groeiende skare: “Julle is onskuldig. Kyk, dis ek wat teen die koning saamgesweer en hom doodgemaak het. Maar wie het al hierdie mense doodgemaak?

10. Weet dan dat niks van wat die Here aangaande Agab se familie gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia aangekondig het.”

11. Daarna het Jehu al Agab se bloedverwante wat nog in Jisreël oor was, doodgemaak, asook al die vooraanstaandes, sy vriende en sy priesters. So het dit gebeur dat daar vir Agab niemand oorgebly het nie.

12. Toe het Jehu na Samaria toe vertrek. Op pad, by Bet-Eked-Roïm,

13. kom hy bloedverwante van koning Ahasia van Juda teë. “Wie is julle?” vra hy.Hulle antwoord hom: “Ons is naasbestaandes van koning Ahasia. Ons is op pad om die seuns van die koning en van die koninginmoeder te besoek.”

14. “Vang hulle lewendig!” beveel Jehu. Hulle het toe al 42 gevang en net daar by die put van Bet-Eked doodgemaak. Nie een van hulle het oorgebly nie.

15. Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab wat hom tegemoetkom. Nadat hy hom gegroet het, sê Jehu vir hom: “Is jy lojaal aan my soos ek lojaal is aan jou?”“Ja, ek is,” antwoord Jonadab.“As jy is,” sê Jehu, “gee my dan jou hand.” Jonadab gee hom toe sy hand en Jehu het hom op sy wa laat klim.

16. Daarna sê Jehu: “Kom saam met my en jy sal my toewyding aan die Here sien.” Jonadab het toe saam met hom gery.

17. Toe Jehu in Samaria aankom, het hy almal doodgemaak wat nog oor was van Agab se bloedverwante. Hy het hulle uitgeroei soos die Here deur Elia gesê het.

18. Daarna het Jehu al die inwoners van die stad bymekaargeroep en gesê: “Agab se verering van Baäl is niks in vergelyking met wat ek sal doen nie!

19. Roep nou al die profete en aanbidders van Baäl, asook al die priesters na my toe. Niemand mag wegbly nie, want ek gaan ’n groot offer aan Baäl bring. Enigeen wat nie opdaag nie, sal doodgemaak word.” Maar eintlik was Jehu van plan om al die Baälaanbidders uit te roei.

20. Toe beveel Jehu: “Heilig ’n byeenkoms ter ere van Baäl!” Hulle het dit gedoen.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10