Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:7-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Toe gaan die vyf manne weg en hulle kom by Layish en sien dat die mense wat daarin is, in veiligheid bly volgens die lewenswyse van die Tzidoniete, stil en veilig, want daar was geen heerser wat hulle verneder het vir enige iets in die land nie en hulle was ver van die Tzidoniete af en het geen transaksies met enige mens gehad nie.

8. Toe hulle by hul broers terugkom in Tzor’ah en Eshta’ol, sê hul broers vir hulle: “Wat rapporteer julle?”

9. Hulle antwoord: “Staan op en laat ons teen hulle optrek, want ons het die land gesien en let op, dit is baie goed. Moenie twyfel of uitstel om in te gaan en die land in besit te neem nie.

10. As julle ingaan, sal julle by ’n gemaksveilige volk kom met ’n uitgestrekte land, want God het dit in julle hand gegee, ’n plek wat niks te kort het aan enige iets op die aarde nie.”

11. Toe het ses honderd man, bewapen met oorlogswapens, uit die familie van die Daniete, uit Tzor’ah en Eshta’ol, weggetrek.

12. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Kiryat-Ye’arim in Y’hudah. Hulle noem daarom dié plek Maganeh-Dan tot vandag toe; let op, dit lê wes van KiryatYe’arim.

13. Hulle het van daar oorgegaan na die Bergland van Efrayim en gekom by die huis van Mikhay’hu.

14. Toe het die vyf man, wat gegaan het om die land van Layish te verken, aan hulle bloedverwante gesê: “Weet julle dat in hierdie huise ’n skouerkleed, huisafgode, ’n gesnede en ’n gegote beeld is? Nou dan, oorweeg wat julle moet doen!”

15. Hulle het daar afgedraai en by die huis van die jongman, die Leviet, die huis van Mikhay’hu gekom en hom na sy welstand gevra.

16. Die ses honderd man, met hulle oorlogswapens, uit die seuns van Dan, het by die ingang van die poort gestaan.

17. Die vyf man wat gegaan het om die land te verken, het opgegaan, daar ingegaan en die gesnede beeld, die skouerkleed, die huisgode en die gegote beeld gevat terwyl die priester by die ingang van die poort gaan staan het saam met die ses honderd man wat met oorlogswapens bewapen is.

18. Toe daardie manne in die huis van Mikhay’hu ingegaan en die gesnede beeld, die skouerkleed, die huisgode en die gegote beeld gevat het, vra die priester vir hulle: “Wat maak julle?”

19. Hulle sê vir hom: “Bly stil, sit jou hand oor jou mond, kom saam met ons en wees vir ons ’n vader en ’n priester. Is dit vir jou beter om priester te wees vir die huis van een man of om priester te wees vir ’n stam en ’n familie in Yisra’el?”

20. Die priester se verstand, wil en emosie was bly en hy vat die skouerkleed, die huisgode en die gesnede beeld en gaan tussen die mense in.

21. Toe het hulle gedraai en weggegaan en die vee, die waardevolle goed en die beeste voor hulle gesit.

Lees volledige hoofstuk Rigters 18