hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dit het in die derde jaar van Hoshea, die seun van Elah, koning van Yisra’el, gebeur dat Hizkiyahu, die seun van Agaz, koning van Y’hudah geword het.

2. Hy was vyf en twintig jaar oud toe hy koning geword het en het nege en twintig jaar in Yerushalayim regeer en sy moeder se naam was Aviyah, die dogter van Z’kharyah.

3. Hy het reg gedoen in die oë van יהוה volgens alles wat sy vader, Dawid, gedoen het.

4. Hy het die hoë plekke verwyder, die pilare afgebreek en die Asherah omgekap. Hy het ook die koper slang wat Moshe gemaak het, in stukkies gebreek omdat die seuns van Yisra’el tot op daardie dae wierook daarop gebrand het en dit is N’gushtan (gemaak van koper) genoem.

5. Hy het in יהוה, die God van Yisra’el, vertrou sodat ná hom daar tussen al die konings van Y’hudah niemand soos hy was nie, of tussen hulle wat voor hom was nie,

6. want hy het יהוה aangehang sonder om van Hom af weg te draai en Sy opdragte uitgevoer wat יהוה Moshe beveel het.Ps 1:3 en hy het in opstand gekom teen die koning van Ashur en hom nie gedien nie.

7. יהוה was by hom; waarheen hy ook al gegaan het, was hy voorspoedig

8. Hy het die F’lishtyne verslaan so ver as tot by `Azah en sy area, van wagtoring af tot versterkte stad.

9. In die vierde jaar van koning Hizkiyahu; dit was die sewende jaar van Hoshea, die seun van Elah, koning van Yisra’el; het Shalman’eser, koning van Ashur, teen Shomron opgegaan en dit beleër.

10. Hulle het dit ingeneem aan die einde van drie jaar; in die sesde jaar van Hizkiyahu - wat die negende jaar van Hoshea, koning van Yisra’el was - is Shomron oorgeneem.

11. Toe het die koning van Ashur Yisra’el in ballingskap weggevoer na Ashur en hulle laat bly in Halag en op die Havor, by die rivier van Gozan en in die stede van die Mede

12. omdat hulle nie die stem van יהוה, hulle God, gehoorsaam het nie, maar Sy verbond oortree het; alles wat Moshe, die dienskneg van יהוה, beveel het; hulle wou nie luister of dit doen nie.

13. In die veertiende jaar van koning Hizkiyahu het Sangeriv, die koning van Ashur, opgegaan teen al die versterkte stede van Y’hudah en hulle verower.

14. Toe laat Hizkiyahu, koning van Y’hudah, die koning van Ashur in Lakhish weet: “Ek het verkeerd gedoen; trek terug van my af; wat u my ook al oplê, sal ek verdra.” Die koning van Ashur het drie honderd talente silwer en dertig talente goud van Hizkiyahu, koning van Y’hudah, verwag.

15. Hizkiyahu het al die silwer gegee wat in die huis van יהוה en in die skatkamers van die huis van die koning te vinde was.

16. In daardie tyd het Hizkiyahu, koning van Y’hudah, die goud van die deure van die tempel van יהוה en van die deurposte afgesny wat hy oorgetrek het en dit vir die koning van Ashur gegee.

17. Toe stuur die koning van Ashur vir Tartan, Rav-Saris en Rav-Shakeh uit Lakhish met ’n groot leër na koning Hizkiyahu in Yerushalayim. Hulle het opgegaan en by Yerushalayim gekom. Toe hulle opgegaan het, het hulle gekom en gaan staan by die watervoor van die Boonste poel wat op die hoofpad van die Wassersveld lê.

18. Toe hulle na die koning roep, het Elyakim, die seun van Hilkiyahu, wat oor die huishouding was, Shevnah, die griffier en Yo’ag, die seun van Asaf, die kanselier, uitgekom na hulle toe.

19. Toe sê Rav-Shakeh vir hulle: “Sê vir Hizkiyahu: ‘So praat die groot koning, die koning van Ashur! Wat is die vertroue wat jy het?

20. Jy praat, maar dit is net lippetaal: ‘Ek het advies en krag vir die oorlog.’ Op wie vertrou jy dat jy teen my gerebelleer het?

21. Nou, let op, jy vertrou op die staf van dié vergruisde riet, op Mitzrayim, wat, as iemand daarop leun, dit in sy hand ingaan en dit deurboor. So is Farao, koning van Mitzrayim, vir almal wat op hom vertrou.

22. As julle egter vir my sê: ‘Ons vertrou op יהוה, ons God;’ is dit nie Hy Wie se hoë plekke en Wie se altare Hizkiyahu verwyder het en vir Y’hudah en Yerushalayim gesê het: ‘Julle moet voor hierdie altaar in Yerushalayim aanbid,’ nie?

23. Nou daarom, maak ’n ooreenkoms met my meester, die koning van Ashur en ek sal vir jou twee duisend perde gee as jy van jou kant af ruiters daarop kan plaas.

24. Hoe kan u dan die versoek van een van die minste van die amptenare van my meester weerstaan en op Mitzrayim vertrou vir strydwaens en perderuiters?

25. Het ek nou sonder יהוה se goedkeuring opgekom teen hierdie plek om dit te vernietig? יהוה het vir my gesê: ‘Gaan op teen hierdie land en vernietig dit.’”

26. Toe sê Elyakim, die seun van Hilkiyahu, Shevnah en Yo’ag vir Rav-Shakeh: “Praat met u diensknegte in Aramees, want ons verstaan dit en moenie met ons Hebreeus praat ten aanhore van die manne wat op die muur is nie.”

27. Rav-Shakeh sê egter vir hulle: “Het my meester my net na u meester en na u gestuur om hierdie woorde te praat en nie met die manne wat op die muur sit, wat hulle eie drek gaan eet en hul eie urine drink saam met julle, nie?”

28. Toe staan Rav-Shakeh en roep hardop in Hebreeus en sê: “Hoor en luister na die woord van die groot koning, die koning van Ashur!

29. So sê die koning: ‘Moenie dat Hizkiyahu julle mislei nie, want hy sal julle nie uit my hand kan bevry nie

30. en moet ook nie dat Hizkiyahu julle op יהוה laat vertrou deur te sê: ‘יהוה sal ons sekerlik bevry en hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Ashur gegee word nie’.’

31. Moenie na Hizkiyahu luister nie, want so sê die koning van Ashur: ‘Maak jou vrede met my en kom uit na my toe en eet elkeen van sy wingerdstok en elkeen van sy vyeboom en drink elkeen van die water van sy eie put

32. totdat ek julle kom haal na ’n land soos julle eie land, ’n land van graan en nuwe wyn, ’n land van brood en wingerde, ’n land van olyfbome en heuning sodat julle mag leef en nie sterwe nie.’ Moet egter nie na Hizkiyahu luister, wanneer hy julle mislei deur te sê: ‘יהוה sal ons bevry,’ nie.

33. Het enige een van die gode van die nasies sy land bevry uit die hand van die koning van Ashur?

34. Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van S’farvayim, Hena en ‘Ivah? Het hulle Shomron uit my hand bevry?

35. Wie is daar onder al die gode van die lande wat hulle land uit my hand bevry het dat יהוה Yerushalayim uit my hand sou bevry?”

36. Die manskappe was egter stil en het hom nie ’n woord geantwoord nie, want dit was die bevel van die koning: “Moet hom nie antwoord nie.”

37. Toe het Elyakim, die seun van Hilkiyahu, wat oor die huishouding was, Shevnah, die griffier en Yo’ag, die seun van Asaf, die kanselier, met geskeurde klere by Hizkiyahu gekom en hom die woorde van Rav-Shakeh meegedeel.