hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. In die negende jaar van sy regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het N’vukhadnetzar, koning van Bavel, gekom, hy en sy hele leër, teen Yerushalayim en daarteen kamp opgeslaan en ’n beleëringsmuur rondom gebou.

2. Die stad was in beleëring tot die elfde jaar van koning Tzidkiyahu.

3. Op die negende dag van die vierde maand, was die hongersnood so groot in die stad dat daar geen kos vir die mense van die land was nie.

4. Toe is in die stad ingebreek en al die krygsmanne het in die nag, deur die poort, tussen die twee mure wat langs die koning se tuin is, gevlug, alhoewel die Kasdeërs reg rondom die stad was en hulle het op die pad van die Vlakte gegaan.

5. Die leër van die Kasdeërs het die koning egter agtervolg en hom in die vlaktes van Yerigo ingehaal en sy hele leër is van hom af verstrooi.

6. Toe vang hulle die koning en bring hom na die koning van Bavel by Rivlah en hy het ’n vonnis oor hom uitgespreek.

7. Hulle het die seuns van Tzidkiyahu voor sy oë geslag en toe die oë van Tzidkiyahu verblind en hom met koper kettings gebind en hom na Bavel gebring.

8. Op die sewende dag van die vyfde maand, in wat die negentiende jaar van koning N’vukhadnetzar, die koning van Bavel, was, het N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die wag, ’n dienskneg van die koning van Bavel, na Yerushalayim gekom.Yir 17:27

9. Hy het die huis van יהוה, die koning se huis en al die huise van Yerushalayim, elke groot huis, met vuur verbrand.

10. Die hele leër van die Kasdeërs, wat by die bevelvoerder van die wag was, het die mure rondom Yerushalayim afgebreek.

11. Toe is die res van die mense wat in die stad oorgebly het en die oorlopers wat na die koning van Bavel oorgeloop het en die res van die mense deur N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die wag, in ballingskap weggevat,

12. maar die bevelvoerder van die wag het sommige van die armstes van die land gelos om wynboere en landbouers te wees.

13. Die Kasdeërs het die koper pilare wat in die huis van יהוה was, die staanders en die koper see wat in die huis van יהוה was, stukkend gebreek en die koper na Bavel weggedra.

14. Hulle het die potte, grawe, snuiters, lepels en al die koper houers wat in die diens gebruik is, weggevat.

15. Die bevelvoerder van die wag het ook die vuurpanne en die komme, wat van suiwer goud en van suiwer silwer was, weggevat;

16. die twee pilare, die een see en die staanders wat Shlomo vir die huis van יהוה gemaak het; die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie.

17. Die hoogte van een pilaar was agttien el en ’n pilaarkroon van koper was daarop; die hoogte van die pilaarkroon was drie el; met vlegwerk en granate rondom op die pilaarkroon, alles van koper en net so was die tweede pilaar, met vlegwerk.

18. Toe het die bevelvoerder van die wag vir S’rayah, die hoofpriester, Tz’fanyah, die tweede priester en drie amptenare van die tempel gevang.

19. Hy het een amptenaar vanuit die stad wat oor die krygsmanne aangestel was, vyf van die koning se raadgewers wat in die stad gevind is, die skrywer van die bevelvoerder van die leër, wat die mense van die land oproep en sestig man van die mense van die land wat in die stad gevind is, gevat.

20. N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die wag, het hulle gevat en hulle na die koning van Bavel, by Rivlah gebring.

21. Toe het die koning van Bavel hulle neergeslaan en hulle doodgemaak in Rivlah, in die land van Hamat. So is Y’hudah uit sy land uit in ballingskap weggevoer.Yir 40:5-43:13

22. Wat die mense betref wat in die land van Y’hudah oorgebly het, wat N’vukhadnetzar, koning van Bavel, laat agterbly het: hy het G’dalyah, die seun van Agikam, die seun van Shafan, oor hulle aangestel.

23. Toe al die bevelvoerders van die leërs, hulle en die manne, hoor dat die koning van Bavel vir G’dalyah aangestel het, het hulle na G’dalyah, na Mitzpah gekom, naamlik: Yishma’el, die seun van N’tanyah, Yoganan, die seun van Kareag, S’rayah, die seun van Tangumet, die N’tofatiet en Ya’azanyah, die seun van die Ma’akhati, hulle en hul manne.

24. G’dalyah het vir hulle en hul manne gesweer en vir hulle gesê: “Moenie bang wees vir die diensknegte van die Kasdeërs nie; leef in die land en dien die koning van Bavel en dit sal met julle goed gaan.”

25. Dit het egter in die sewende maand gebeur dat Yishma’el, die seun van N’tanyah, die seun van Elishama, uit die koninklike familie, met tien manne gekom het en G’dalyah doodgeslaan het, saam met die Jode en die Kasdeërs wat saam met hom by Mitzpah was.

26. Toe het al die mense, klein en groot, saam met die bevelvoerders van die leërs, opgestaan en na Mitzrayim gegaan, want hulle was bang vir die Kasdeërs.

27. Dit het in die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van Y’hoyakhin, koning van Y’hudah, in die twaalfde maand, op die sewe en twintigste van die maand gebeur dat Eveel-M’rodakh, koning van Bavel, in die jaar dat hy koning geword het, vir Y’hoyakhin, die koning van Y’hudah, uit die gevangenis vrygelaat het

28. en hy het vriendelik met hom gepraat en sy troon gesit bokant die trone van die konings wat by hom in Bavel was.

29. Y’hoyakhin het sy gevangenisklere vervang en hy het gereeld sy maaltye in die koning se teenwoordigheid geëet, al die dae van sy lewe

30. en vir sy lewensonderhoud, is ’n gereelde lewensonderhoud vir hom gegee deur die koning, ’n deel elke dag, al die dae van sy lewe.