hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Ag’av het sewentig seuns gehad in Shomron. Yehu het aan die heersers van Yizre’el, die oudstes en aan die opvoeders van die seuns van Ag’av briewe geskryf, hulle na Shomron gestuur en gesê:

2. “Nou, wanneer hierdie brief by julle kom, aangesien die seuns van jul meester by julle is, sowel as die strydwaens, die perde, ’n versterkte stad en die wapens by julle is,

3. kies die beste en betroubaarste van die seuns van julle meester en sit hom op die troon van sy vader en veg vir die huis van julle meester.

4. Hulle het egter baie gevrees en gesê: “Let op, die twee konings het nie voor hom standgehou nie; hoe kan ons dan staan?”

5. Die een wat oor die huishouding was, hy wat oor die stad was, die oudstes en die opvoeders het woord aan Yehu gestuur en gesê: “Ons is u diensknegte, alles wat u ons beveel, sal ons doen; ons sal niemand koning maak nie; doen wat goed is in u oë.”

6. Toe het hy vir die tweede keer ’n brief aan hulle geskryf en gesê: “As julle aan my kant is en my stem sal gehoorsaam, vat die koppe van die manne, die seuns van julle meester en kom môre omtrent hierdie tyd na my toe in Yizre’el.” Die koning se seuns, sewentig man, was by die groot manne van die stad wat hulle grootgemaak het.

7. Toe die brief by hulle kom, het hulle die seuns van die koning gevat en hulle gedood, sewentig man en hulle koppe in mandjies gesit en vir hom na Yizre’el gestuur.

8. Toe die boodskapper kom en hom vertel en sê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring,” sê hy: “Sit hulle in twee hope neer by die ingang van die poort tot die oggend toe.”

9. In die oggend het hy uitgegaan en gaan staan en vir al die mense gesê: “Julle is onskuldig. Let op, ék het saamgesweer teen my meester en hom vermoor, maar wie het al hierdie manne doodgemaak?

10. Weet dan dat niks onvervuld sal bly van die woord van יהוה wat יהוה gepraat het teen die huis van Ag’av nie, want יהוה het gedoen wat Hy deur sy dienskneg Eliyahu gesê het.”

11. Yehu het almal van die huis van Ag’av wat in Yizre’el oor was en al sy groot manne, sy vertrouelinge en sy priesters, doodgemaak totdat hy vir hom niemand laat oorbly het nie.

12. Toe het hy opgestaan en vertrek na Shomron. Terwyl hy oppad was, by Beit-Eked van die herders,

13. het Yehu familie van Agazyah, koning van Y’hudah, ontmoet en gesê: “Wie is julle?” Hulle antwoord: “Ons is familie van Agazyah en ons het afgekom om die seuns van die koning en die seuns van die koninginmoeder te groet.”

14. Hy het gesê: “Gryp hulle lewendig!” Hulle het hul lewendig gegryp en by die put van Beit-Eked gedood; twee en veertig man en hy het niemand van hulle laat oorbly nie.

15. Toe hy daarvandaan vertrek het, het hy vir Y’honadav, die seun van Rekhav, ontmoet wat hom tegemoet kom en hy groet hom en sê vir hom: “Is jou hart reg, soos my hart met jou hart is?” Y’honadav antwoord: “Dit is.” Yehu sê “As dit is, gee jou hand.” Hy het vir hom sy hand gegee en hy het hom by hom op die wa gevat.

16. Hy het gesê: “Kom saam met my en sien my ywer vir יהוה.” Hy het hom op sy wa laat ry.

17. Toe hy in Shomron kom, het hy almal doodgemaak wat van Ag’av in Shomron oorgebly het totdat hy hom uitgewis het volgens die woord van יהוה wat Hy tot Eliyahu gepraat het.

18. Yehu het al die mense bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Ag’av het Ba’al ’n bietjie gedien; Yehu sal hom baie dien.

19. Roep nou al die profete van Ba’al, al sy aanbidders en al sy priesters; laat niemand gemis word nie, want ek het ’n groot offer aan Ba’al. Wie ook al gemis word, sal nie leef nie.” Yehu het dit egter met lis gedoen om die aanbidders van Ba’al te kan vernietig.

20. Yehu het ook gesê: “Sonder ’n ernstige byeenkoms af vir Ba’al.” Hulle het dit uitgeroep.

21. Yehu het ook regdeur die hele Yisra’el gestuur en al die aanbidders van Ba’al het gekom sodat daar niemand oor was wat nie gekom het nie. Toe hulle in die tempel van Ba’al ingegaan het, was die tempel van Ba’al vol van een kant tot die ander.

22. Hy sê vir die een wat in beheer was oor die klerekamer: “Bring klere uit vir al die aanbidders van Ba’al.” Hy het vir hulle klere uitgebring.

23. Yehu het saam met Y’honadav, die seun van Rekhav, in die tempel van Ba’al ingegaan en hy sê aan die aanbidders van Ba’al: “Soek en kyk dat daar nie miskien van die diensknegte van יהוה hier by julle is nie, maar net die aanbidders van Ba’al.”

24. Toe het hulle ingegaan om offers en brandoffers te offer. Yehu het vir homself tagtig man buitekant opgestel en gesê: “Die een wat een van die manne wat ek in julle hande gee, laat ontsnap, sal sy lewe gee in sy plek.”

25. Net toe hy klaar die brandoffer geoffer het, het dit gebeur dat Yehu aan die lyfwagte en die koninklike offisiere sê: “Gaan in, maak hulle dood, laat niemand uitkom nie!” Hulle het hul met die skerpte van die swaard doodgemaak en die lyfwagte en die koninklike offisiere het hulle uitgegooi en na die binnedeel van die huis van Ba’al gegaan.

26. Hulle het die pilare van die huis van Ba’al uitgebring en dit verbrand.

27. Hulle het ook die pilaar van Ba’al en die huis van Ba’al afgebreek en toilette daarvan gemaak, tot vandag toe.

28. So het Yehu Ba’al uit Yisra’el uit vernietig.

29. Nogtans het Yehu nie afgewyk van die sondes van Yarov’am, die seun van N’vat, waarmee hy Yisra’el laat sondig het nie: die goue kalwers wat in Beit-El en in Dan was.

30. יהוה sê vir Yehu: “Omdat jy goed gedoen het deur te doen wat reg is in My oë en volgens alles wat in My hart was aan die huis van Ag’av gedoen het, sal jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Yisra’el sit.”Hos 1:4

31. Yehu het egter nie versigtig in die wet van יהוה, die God van Yisra’el, met sy hele verstand, wil en emosie geloop nie; hy het nie afgewyk van die sondes van Yarov’am waarin hy Yisra’el laat sondig het nie.

32. In dié dae het יהוה dele van Yisra’el begin afsny en Haza’el het hulle deur die hele gebied van Yisra’el verslaan:

33. van die Yarden af ooswaarts, die hele land van Gil’ad, die Gadiete, die Re’uveniete en die M’nashehiete, vanaf `Aro’er wat by die vallei van die Arnon lê, Gil’ad sowel as Bashan.

34. Die res van die dade van Yehu en alles wat hy gedoen het, al sy mag, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie?

35. Yehu is neergelê by sy vaders en is begrawe in Shomron. Y’ho’agaz, sy seun het in sy plek koning geword.

36. Die tyd wat Yehu oor Yisra’el in Shomron regeer het, was agt en twintig jaar.2 Kro 22:10-23:21