hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Elisha, die profeet, het een van die profete-seuns geroep en vir hom gesê: “Gordel vas jou heupe en neem hierdie kruik met olie in jou hand en gaan na RamotGil’ad.

2. Wanneer jy daar kom, soek vir Yehu, die seun van Y’hoshafat, die seun van Nimshi en gaan in en laat hom opstaan onder sy broers uit en bring hom na ’n binnekamer.

3. Vat dan die kruik met olie en giet dit op sy kop uit en sê: “So sê יהוה: ‘Ek het jou gesalf as koning oor Yisra’el.’ Maak dan die deur oop, vlug en moenie wag nie.”

4. Die jongman, die dienskneg van die profeet, het na Ramot-Gil’ad gegaan.

5. Toe hy arriveer, let op, het die bevelvoerders van die leër daar gesit en hy sê: “Ek het ’n woord vir u, bevelvoerder.” Yehu vra: “Vir wie van ons?” Hy antwoord: “Vir u, bevelvoerder!”

6. Hy het opgestaan, in die huis ingegaan en hy het die olie op sy kop uitgegooi en vir hom gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Ek het jou gesalf as koning oor die volk van יהוה, oor Yisra’el.

7. Jy sal die huis van Ag’av, jou meester, slaan sodat Ek die bloed van My knegte, die profete en die bloed van al die knegte van יהוה deur die hand van Izevel, kan wreek,

8. want die hele huis van Ag’av sal sterf en Ek sal van Ag’av almal wat manlik is in Yisra’el, beide slaaf en vryman, afsny.

9. Ek sal die huis van Ag’av maak soos die huis van Yarov’am, die seun van N’vat en soos die huis van Ba’sha, die seun van Agiyah.

10. Die honde sal Izevel eet in die gebied van Yizre’el en niemand sal haar begrawe nie.” Toe het hy die deur oopgemaak en gevlug.

11. Yehu het uitgegaan na die diensknegte van sy meester en een sê vir hom: “Is alles goed? Waarom het hierdie kranksinnige na jou toe gekom?” Hy antwoord hulle: “Julle ken die man en sy gepraat.”

12. Hulle sê: “Dit is ’n leuen! Vertel ons nou.” Hy antwoord: “So en so het hy vir my gesê: ‘So sê יהוה: Ek het jou as koning oor Yisra’el gesalf.’”

13. Toe vat hulle gou elkeen sy kleed en lê dit onder hom op die kaal trappe neer en blaas op die ramshoring en sê: “Yehu is koning!”

14. Yehu, die seun van Y’hoshafat, die seun van Nimshi, het saamgesweer teen Y’horam. Y’horam en die hele Yisra’el was besig om Ramot-Gil’ad te verdedig teen Haza’el, koning van Aram,

15. maar koning Y’horam het teruggekeer na Yizre’el om genees te word van die wonde wat die Arameërs hom toegedien het in die geveg teen Haza’el, koning van Aram. Yehu het gesê: “As julle saamstem, laat niemand ontsnap of uit die stad uitgaan om dit in Yizre’el te gaan vertel nie.”

16. Toe ry Yehu op ’n strydwa en gaan na Yizre’el, want Y’horam het daar gelê. Agazyah, koning van Y’hudah, het afgekom om Y’horam te sien.

17. Die wag het op die toring in Yizre’el gestaan en die geselskap van Yehu gesien soos hy aankom en gesê: “Ek sien ’n geselskap.” Y’horam sê: “Vat ’n ruiter en stuur hulle tegemoet en laat hom vra: ‘Is dit vrede?’”

18. ’n Perderuiter het hom tegemoet gegaan en gesê: “So vra die koning: ‘Is dit vrede?’” Yehu antwoord: “Wat het jy met vrede te doen? Draai in agter my!” Die wag het rapporteer: “Die boodskapper het by hulle gekom, maar hy het nie teruggekom nie.”

19. Toe stuur hy ’n tweede perderuiter, wat by hulle kom en sê: “So vra die koning: ‘Is dit vrede?’” Yehu antwoord: “Wat het jy met vrede te doen? Draai in agter my!”

20. Die wag het gerapporteer: “Hy het tot by hulle gekom en hy kom nie terug nie en die ry is soos die ry van Yehu, die seun van Nimshi, want hy ry verwoed.”

21. Toe sê Y’horam: “Maak gereed.” Hulle het sy strydwa gereed gemaak. Y’horam, koning van Yisra’el en Agazyah, koning van Y’hudah, het uitgegaan, elkeen op sy strydwa en hulle het uitgegaan om Yehu te ontmoet en hom gekry op die stuk grond van Navot, die Yizre’eliet.

22. Toe Y’horam vir Yehu sien, sê hy: “Is dit vrede, Yehu?” Hy antwoord: “Watter vrede, solank as wat die hoereerderye van jou moeder Izevel en haar toorderye so baie is?”

23. Y’horam het omgeswaai en gevlug en vir Agazyah gesê: “Verraad, Agazyah!”

24. Yehu het sy boog met sy volle sterkte gespan en Y’horam tussen sy arms geskiet; die pyl het deur sy hart gegaan en hy het in sy wa inmekaargesak.

25. Toe sê hy vir Bidkar, sy offisier: “Tel hom op, gooi hom op die stuk grond van Navot, die Yizre’eliet, want ek onthou toe ek en jy saam agter sy vader Ag’av gery het dat יהוה hierdie uitspraak oor hom gegee het:1 Kon 21:19-29

26. ‘Ek het sekerlik gister die bloed van Navot en die bloed van sy seuns gesien, sê יהוה en Ek sal jou op hierdie stuk grond terugbetaal, sê יהוה.’ Tel hom dan nou op en gooi hom op die stuk grond volgens die woord van יהוה.

27. Toe Agazyah, koning van Y’hudah, dit sien, het hy gevlug op die pad na Beit-HaGan. Yehu het hom ook agtervolg en gesê: “Skiet hom ook in die strydwa!” Hulle het hom geskiet by die hoogte van Gur by Yivle’am, maar hy het na Megiddo gevlug en daar gesterf.

28. Sy diensknegte het hom toe in ’n strydwa na Yerushalayim gevat en hom in sy graf by sy vaders begrawe in die stad van Dawid.

29. In die elfde jaar van Y’horam, die seun van Ag’av, het Agazyah koning oor Y’hudah geword.

30. Toe Yehu in Yizre’el gekom het, het Izevel daarvan gehoor en sy het haar oë geverf en haar kop versier en by die venster uitgekyk.1 Kon 16:10-20

31. Terwyl Yehu deur die poort inkom, sê sy: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid, Zimri, moordenaar van jou meester!”

32. Toe het hy sy gesig opgelig na die venster en gevra: “Wie is aan my kant? Wie?” Twee of drie amptenare het afgekyk na hom.

33. Hy sê: “Gooi haar af!” Hulle het haar afgegooi en van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat en hulle het haar vertrap.

34. Hy het ingegaan en geëet en gedrink en hy het gesê: “Kyk tog na dié vervloekte vrou en begrawe haar, want sy is ’n koningsdogter.”

35. Hulle het gegaan om haar te begrawe, maar hulle het niks meer van haar gekry as net die skedel, die voete en die palms van haar hande nie.

36. Hulle kom daarom terug en vertel hom en hy sê: “Dit is die woord van יהוה wat Hy deur sy kneg Eliyahu, die Tishbiet, gepraat het, naamlik: “Op die eiendom van Yizre’el sal die honde die vlees van Izevel eet

37. en die lyk van Izevel sal soos mis op die land wees op die eiendom van Yizre’el sodat hulle nie sal kan sê: ‘Dit is Izevel’ nie.”