Ou Testament

Nuwe Testament

Sefanja 3:7-17 Die Boodskap (DB)

7. Die Here het gedink dat die mense van Jerusalem Hom nou sou respekteer na hulle alles gesien en gehoor het wat Hy kan doen, en dat hulle Hom voortaan sou gehoorsaam. Dan sou dit nie vir Hom nodig gewees het om die stad weer te straf nie. Maar nee, hulle het met meer energie as ooit tevore aangehou om verkeerde dinge te doen. Dit het die Here nie gelukkig gemaak nie.

8. Die Here het toe vir Jerusalem gesê dat hulle reg moet wees vir wat voorlê. Die tyd van afrekening is om die draai. Hy sê Hy het besluit dat Hy volke en koninkryke iets van sy vreeslike woede gaan laat beleef. Hy kan hierdie volke nie verdra nie. Daarom sal Hy die hele wêreld iets laat ervaar van sy woede wat soos die hitte van ’n vuur alles verskroei.

9. Die Here sê dat wanneer die tyd reg is, Hy die volke se gesindhede sal verander sodat hulle nie langer tot ander gode bid nie, maar Hom almal saam sal aanbid.

10. Met die verloop van tyd het mense verspreid geraak en anderkant die riviere van Etiopië geland. In die tye wat kom, sal hierdie mense wat die Here nog dien, offers aan Hom bring.

11. Die Here sê verder dat sy volk in die tyd wat kom, nie langer skaam sal hoef te kry oor alles wat hulle gedoen het toe hulle opstandig teen Hom was nie. Hy gaan ontslae raak van almal wat hoogmoedig en arrogant is. Daar sal nie langer plek wees vir mense wat te veel van hulleself dink as hulle Hom in die tempel kom aanbid nie.

12. In Israel sal die Here net gewone mense wat nederig is en Hom vertrou, laat oorbly.

13. Hulle sal mense wees wat nie ander kul en kwaad aandoen nie. Hulle sal ook mense wees wat nie leuens vertel en ander bedrieg nie. Hulle sal veilig en rustig lewe en sal vir niemand bang wees nie.

14. Die mense van Israel moet hulle blydskap wys deur te sing en te juig. Elkeen se hart moet oorloop van blydskap en vreugde.

15. Die Here sal hulle nie langer straf nie. Hy jaag ook al hulle vyande weg. Die Here is die koning van Israel en Hy bly by hulle. Hulle hoef daarom vir niks meer bang te wees nie.

16. Die tyd het gekom dat Jerusalem se mense nie langer bang of moedeloos hoef te wees nie,

17. want die Here is by hulle. Die Here is soos ’n held wat hulle kom red en hulle wenners maak. As Hy aan hulle dink, raak Hy baie opgewonde en bly. Sy liefde vir hulle maak Hom rustig en laat Hom tevrede voel. Hy sal sommer soos wat hulle by ’n fees maak, hardop sing om te wys dat hulle Hom bly maak.

Lees volledige hoofstuk Sefanja 3