Ou Testament

Nuwe Testament

Sefanja 3:2-9 Die Boodskap (DB)

2. Hulle luister nie na die Here nie en wil nie reggehelp word as hulle verkeerd doen nie. Hulle vertrou nie die Here nie en dien Hom ook nie.

3. Die amptenare in die stad behandel gewone mense sleg en buit hulle uit. Die regters tree onregverdig op en is gulsig. Hulle kyk net heeltyd wat hulle uit ander mense kan kry en dink net aan hulleself.

4. Die profete tree onverantwoordelik op, ’n mens kan nie glo wat hulle sê nie. Die priesters het nie respek vir die tempel waarheen mense kom om die Here te aanbid nie. Hulle verdraai ook die opdragte van die Here na hulle smaak.

5. Maar ten spyte van al hierdie verkeerde dinge, bly die Here nog in die stad. Hy doen nooit enige verkeerde dinge nie. Elke dag, sonder uitsondering, sorg die Here dat mense weet wat reg is, selfs al steur mense hulle nie daaraan nie. Feit van die saak is, hierdie slegte mense kry mos op geen manier skaam vir al die verkeerde dinge wat hulle doen nie.

6. Die Here sê dat Hy al die verskillende volke heeltemal uitgewis het. Hy het hulle stede wat hulle sterker gemaak het en waarin hulle wegkruip as gevaar dreig, vernietig. Hierdie stede is nou verlate, daar is nie meer enige mense in die strate te sien nie. Niemand het in hierdie stede oorgebly nie, daar is nie ’n enkele inwoner oor nie.

7. Die Here het gedink dat die mense van Jerusalem Hom nou sou respekteer na hulle alles gesien en gehoor het wat Hy kan doen, en dat hulle Hom voortaan sou gehoorsaam. Dan sou dit nie vir Hom nodig gewees het om die stad weer te straf nie. Maar nee, hulle het met meer energie as ooit tevore aangehou om verkeerde dinge te doen. Dit het die Here nie gelukkig gemaak nie.

8. Die Here het toe vir Jerusalem gesê dat hulle reg moet wees vir wat voorlê. Die tyd van afrekening is om die draai. Hy sê Hy het besluit dat Hy volke en koninkryke iets van sy vreeslike woede gaan laat beleef. Hy kan hierdie volke nie verdra nie. Daarom sal Hy die hele wêreld iets laat ervaar van sy woede wat soos die hitte van ’n vuur alles verskroei.

9. Die Here sê dat wanneer die tyd reg is, Hy die volke se gesindhede sal verander sodat hulle nie langer tot ander gode bid nie, maar Hom almal saam sal aanbid.

Lees volledige hoofstuk Sefanja 3