Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:39-53 Die Boodskap (DB)

39. Gaäl het toe die mense van Sigem gevat om teen Abimelek te gaan veg.

40. Maar Abimelek het hom verslaan en hy moes vlug. Baie mense het daardie dag hulle lewe verloor. Die dooies het tot by die stad se hekke gelê.

41. Abimelek het in Aruma gebly en Sebul het vir Gaäl en sy familie uit Sigem weggejaag en hulle nie langer toegelaat om daar te bly nie.

42. Die volgende dag het Abimelek te hore gekom dat die mense van Sigem beplan het om teen hom te gaan oorlog maak.

43. Hy het toe sy troepe gevat, hulle in drie groepe verdeel en ’n hinderlaag vir die mense van Sigem daar in die veld gelê. Toe Abimelek die soldate uit die stad uit sien kom, het hy en sy soldate uit hulle wegkruipplekke opgespring en hulle aangeval en doodgemaak.

44. Terwyl Abimelek en sy groep vorentoe gestorm het om by die stad se hekke uit te kom om te keer dat die soldate weer die stad in vlug, het twee van sy ander afdelings soldate die mense in die veld aangeval en hulle doodgemaak.

45. Die geveg het die hele dag lank aangehou. Uiteindelik het Abimelek die stad ingeneem. Hy het al die inwoners doodgemaak, die stad tot op die grond afgebreek en sout daaroor uitgegooi.

46. Toe die leiers in Migdol-Sigem dit hoor, het hulle en hulle mense in die grafkelder in die tempel van Baäl-Berit gaan wegkruip.

47. Iemand het vir Abimelek vertel dat die mense van Migdol-Sigem daar wegkruip.

48. Hy is toe met sy soldate teen die berg Salmon uit. Hy het ’n byl gevat, ’n boomtak afgekap, dit op sy skouer gesit en vir sy soldate gesê: “Maak gou, doen wat ek gedoen het!”

49. Hulle het toe elkeen vir hulle ’n tak afgekap en agter Abimelek aangeloop. Hulle het al die takke teen die grafkelder opgestapel waarin die mense weggekruip het en dit aan die brand gesteek. So het al die inwoners van Migdol-Sigem doodgebrand, ongeveer 1 000 mans en vroue.

50. Daarna is Abimelek na Tebes toe. Hy het die stad omsingel en dit ingeneem.

51. In die middel van die stad was daar ’n sterk toring. Al die mense van die stad, mans en vroue en leiers, het daarheen gevlug. Hulle het hulleself in die toring toegesluit en toe op die dak van die toring gaan staan.

52. Abimelek is toe na die toring toe om dit in te neem. Toe hy by die deur van die toring kom en dit aan die brand probeer steek,

53. het ’n vrou wat op die dak gestaan het ’n meulsteen van die dak af gegooi. Dit het op sy kop te lande gekom en sy skedel gekraak.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9