hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9 Die Boodskap (DB)

Abimelek

1. Op ’n dag het Gideon se seun Abimelek by sy ma se familie in Sigem gaan kuier. Hy het vir hulle en vir almal wat daar by hulle was, gesê:

2. “Vra ’n bietjie vir die mense van Sigem: Wat sou julle verkies? Om al 70 Gideon se seuns as leiers te hê of eerder net een? Maar onthou net, ek is julle bloedfamilie!”

3. Abimelek se familie het toe met sy voorstel na die inwoners van Sigem toe gegaan. Hulle het besluit om hom te volg aangesien hy, soos hulle gesê het, “een van ons is”.

4. Hulle het vir hom ongeveer een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee. Hy het dit gebruik om vir hom ’n klomp leeglêers te huur om sy volgelinge te wees.

5. Hy is toe saam met hulle daar weg na sy pa se huis toe in Ofra. Daar het hy al 70 sy broers, almal Gideon se seuns, op een klip doodgemaak. Die enigste een wat oorgebly het, was Jotam, Gideon se jongste seun, want hy het weggekruip.

6. Toe het al die inwoners van Sigem en Bet-Millo bymekaargekom by die groot eikeboom langs die klippilaar wat hulle aanbid het. Daar het hulle toe vir Abimelek as koning gekroon.

Jotam se gelykenis

7. Toe Jotam hiervan te hore kom, het hy op die berg Gerisim geklim en hard vir hulle geskree: “Luister na my, mense van Sigem, dan sal God dalk na julle luister!

8. Op ’n keer het die bome bymekaargekom om vir hulle ’n koning te kies. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Wees jy ons koning!’

9. Maar die olyfboom het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou olyfolie produseer, waarmee eer betoon word aan beide gode en mense, net om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’

10. Toe sê hulle vir die vyeboom: ‘Wees jy dan ons koning!’

11. Maar dié sê vir hulle: ‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’

12. Toe sê hulle vir die wingerdstok: ‘Wees jy ons koning!’

13. Maar die wingerdstok sê vir hulle: ‘Moet ek my wyn prysgee, wat gode en mense gelukkig maak, net om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’

14. Uiteindelik het al die bome na die doringbos toe gedraai en gesê: ‘Wees jy dan ons koning!’

15. Die doringbos het geantwoord: ‘As julle my regtig as julle koning wil kroon, kom staan dan hier in my skaduwee. As julle dit nie wil doen nie, sal daar ’n vuur uit die doringbos uitgaan wat al die seders van die Libanon sal verbrand tot niks.’

16. “Dink julle julle was eerlik en opreg toe julle vir Abimelek koning gemaak het? Het julle Gideon en sy familie reg behandel? Het julle aan my pa die eer bewys wat hom toekom?

17. My pa het ter wille van julle teen die Midianiete gaan veg en sy lewe in gevaar gestel sodat julle vry kon wees.

18. Maar vandag het julle teen hom en sy familie in opstand gekom deur al 70 sy seuns op een klip dood te maak. Toe het julle vir Abimelek, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die mense van Sigem, net omdat hy julle familielid is.

19. Maar as julle vandag so verskriklik eerlik is teenoor Gideon en sy familie, moet julle mos goed voel daaroor dat Abimelek julle koning is. Boonop moet hy ook bly wees daaroor.

20. Aan die ander kant, as julle nie eerlik is nie, mag dit dan gebeur dat Abimelek se leierskap soos ’n vuur sal wees wat die inwoners van Sigem en Bet-Millo sal verbrand. En mag die inwoners van Sigem en Bet-Millo deur hulle optrede vir Abimelek soos ’n vuur wees wat groot verwoesting saai.”

21. Daarna het Jotam gevlug en in Beër gaan bly, omdat hy bang was sy broer Abimelek maak hom dood.

Sigem kom in opstand teen Abimelek

22. Abimelek het drie jaar oor Israel regeer.

23. Toe het God spanning tussen Abimelek en die mense van Sigem laat ontstaan. Hulle het teen sy leierskap in opstand gekom.

24. Dit het gebeur sodat Abimelek en die mense van Sigem, wat hom aangemoedig het om Gideon se 70 seuns dood te maak, die gevolge van hulle verskriklike dade sou dra.

25. Die mense van Sigem het toe ’n hinderlaag teen Abimelek op die bergtoppe opgestel. Hulle het almal beroof wat daar verbygekom het. Maar iemand het vir Abimelek daarvan vertel.

26. In daardie tyd het Ebed se seun Gaäl en sy broers Sigem toe getrek. Na ’n ruk het hulle die mense van Sigem se vertroue gewen.

27. Tydens een van die oesfeeste tot eer van hulle gode het hulle wyn gemaak. Hulle het in die tempel van daardie god feesgevier. Nadat almal goed geëet en gedrink het, het hulle Abimelek begin afkraak.

28. Ebed se seun Gaäl het spottend gevra: “Watter soort mense is ons hier in Sigem dat ons Abimelek dien? Wie is hy in elk geval? Hy is net Gideon se seun met Sebul as sy goewerneur. Maar moet hulle nie eerder die mense van Gamor, Sigem se voorvader, se slawe wees nie? Waarom moet ons vir Abimelek dien?

29. As ek in beheer was, sou ek van Abimelek ontslae geraak het. Ek sou hom uitgedaag en vir hom gesê het: Bring jou sterk leër en kom veg teen my!”

30. Toe Sebul, die burgemeester, hoor wat Gaäl te sê gehad het, was hy woedend.

31. Hy het stilletjies ’n boodskap na Abimelek gestuur en vir hom gesê: “Ebed se seun Gaäl en sy mense het in Sigem kom bly en hulle is besig om die stad en sy mense teen jou op te sweep.

32. Bring jou soldate en kom kruip vannag in die veld buite Sigem weg.

33. Môreoggend teen skemer moet julle die stad skielik aanval. As Gaäl en sy soldate teen jou probeer veg, moet jy hulle doodmaak.”

34. Abimelek en sy soldate het toe in die nag in vier groepe verdeel en ’n hinderlaag teen Sigem opgestel.

35. Toe Abimelek en sy soldate vir Gaäl by die stadshekke sien staan, het hulle uit hulle skuilplek gekom.

36. Gaäl het hulle gesien en vir Sebul gesê: “Kyk, daar kom mense van die berge af!” Maar Sebul het vir hom gesê: “Dis nie mense nie, dis sommer net die berg se skaduwee wat jy vir mense aansien!”

37. Maar Gaäl het weer vir hom gesê: “Kyk mooi, daar kom mense van die heuwels af. En daar van die waarsêersboom se kant af is nog ’n groep aan die kom.”

38. Toe sê Sebul ewe leedvermakerig vir hom: “Nou waar is jou groot mond dan nou? Jy is mos die een wat gesê het: ‘Wie is Abimelek dat ons sy onderdane moet wees?’ Wel, is dit nie dalk die mense van wie jy so met minagting gepraat het nie? Hier is jou kans, vat nou jou soldate en gaan veg teen hulle.”

39. Gaäl het toe die mense van Sigem gevat om teen Abimelek te gaan veg.

40. Maar Abimelek het hom verslaan en hy moes vlug. Baie mense het daardie dag hulle lewe verloor. Die dooies het tot by die stad se hekke gelê.

41. Abimelek het in Aruma gebly en Sebul het vir Gaäl en sy familie uit Sigem weggejaag en hulle nie langer toegelaat om daar te bly nie.

42. Die volgende dag het Abimelek te hore gekom dat die mense van Sigem beplan het om teen hom te gaan oorlog maak.

43. Hy het toe sy troepe gevat, hulle in drie groepe verdeel en ’n hinderlaag vir die mense van Sigem daar in die veld gelê. Toe Abimelek die soldate uit die stad uit sien kom, het hy en sy soldate uit hulle wegkruipplekke opgespring en hulle aangeval en doodgemaak.

44. Terwyl Abimelek en sy groep vorentoe gestorm het om by die stad se hekke uit te kom om te keer dat die soldate weer die stad in vlug, het twee van sy ander afdelings soldate die mense in die veld aangeval en hulle doodgemaak.

45. Die geveg het die hele dag lank aangehou. Uiteindelik het Abimelek die stad ingeneem. Hy het al die inwoners doodgemaak, die stad tot op die grond afgebreek en sout daaroor uitgegooi.

46. Toe die leiers in Migdol-Sigem dit hoor, het hulle en hulle mense in die grafkelder in die tempel van Baäl-Berit gaan wegkruip.

47. Iemand het vir Abimelek vertel dat die mense van Migdol-Sigem daar wegkruip.

48. Hy is toe met sy soldate teen die berg Salmon uit. Hy het ’n byl gevat, ’n boomtak afgekap, dit op sy skouer gesit en vir sy soldate gesê: “Maak gou, doen wat ek gedoen het!”

49. Hulle het toe elkeen vir hulle ’n tak afgekap en agter Abimelek aangeloop. Hulle het al die takke teen die grafkelder opgestapel waarin die mense weggekruip het en dit aan die brand gesteek. So het al die inwoners van Migdol-Sigem doodgebrand, ongeveer 1 000 mans en vroue.

50. Daarna is Abimelek na Tebes toe. Hy het die stad omsingel en dit ingeneem.

51. In die middel van die stad was daar ’n sterk toring. Al die mense van die stad, mans en vroue en leiers, het daarheen gevlug. Hulle het hulleself in die toring toegesluit en toe op die dak van die toring gaan staan.

52. Abimelek is toe na die toring toe om dit in te neem. Toe hy by die deur van die toring kom en dit aan die brand probeer steek,

53. het ’n vrou wat op die dak gestaan het ’n meulsteen van die dak af gegooi. Dit het op sy kop te lande gekom en sy skedel gekraak.

54. Hy skree toe vir die jong man wat sy wapens gedra het en sê vir hom: “Trek jou swaard en maak my dood! Ek wil nie hê hulle moet kan sê ’n vrou het my doodgemaak nie!” Die jong man het hom met sy swaard deurboor en hy is dood.

55. Toe die Israeliete sien Abimelek is dood, het hulle omgedraai en huis toe gegaan.

56. So het God vir Abimelek gestraf oor die onreg wat hy sy pa aangedoen het toe hy vroeër sy 70 broers vermoor het.

57. God het ook die inwoners van Sigem vir hulle sondes gestraf. Alles het gebeur presies net soos Jotam gesê het.