Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 8:8-19 Die Boodskap (DB)

8. Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet vir die mense verduidelik terwyl hulle daar staan en luister het.

9. Hulle het God se wetboek voorgelees en die mense gehelp om die betekenis daarvan te verstaan.

10. Toe die mense besef wat die voorskrifte van die wet vir hulle beteken, het hulle begin huil. Nehemia die goewerneur, Esra die priester en kenner van die wetboek van Moses, en die Leviete wat besig was om die wet vir die mense te verduidelik het vir hulle gesê: “Moenie huil en hartseer wees nie. Hierdie dag behoort aan die Here. Op hierdie dag maak julle ’n nuwe begin voor die Here julle God. Dit is sy nuwe dag!

11. Gaan huis toe en vier fees, eet en drink van die beste wat julle het. Deel van julle kos met die mense wat self nie genoeg het nie. Vandag behoort aan die Here! Moenie terneergedruk wees nie. Dien die Here met blydskap en Hy sal julle beskerm.”

12. Ook die Leviete het die mense kalmeer met die woorde: “Stil nou, dit is ’n dag wat aan die Here behoort. Dit is nie ’n dag vir trane nie.”

13. Die mense is toe daar weg en het gaan feesvier. Hulle het hulle kos met mekaar gedeel. Almal was opgeruimd en vrolik omdat hulle God se woord gehoor en verstaan het.

14. Die volgende dag het die hoofde van al die families, die priesters en die Leviete by Esra bymekaargekom om die wet van God verder te bestudeer.

15. Hulle ontdek toe dat die Here deur Moses beveel het dat die Israeliete gedurende die fees wat in die sewende maand gevier word in hutte moet bly.

16. Hulle het toe die volgende boodskap na Jerusalem en al die omringende dorpe en stede toe gestuur: “Gaan soek in die heuwels na olyftakke, olienhouttakke, mirteboomtakke, palmtakke en ander digteblaartakke. Maak dan volgens die voorskrif wat die wetboek gee vir julle hutte waarin julle gedurende die feestyd kan bly.”

17. Die mense is toe daar weg en nadat hulle die takke gaan haal het, het hulle hutte gebou. Party het hulle hut op hulle huis se dak gebou, ander in die binnepleine. Party het selfs op die binneplein van die tempel hutte gebou. Ander se hutte het weer by die Waterhek en die Efraimshek gestaan.

18. Al die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het vir hulle ’n hut gebou en daarin gaan bly. Dit was iets wat die Israeliete in Josua se tyd laas op so ’n skaal gedoen het. Almal was opgewonde en bly hieroor.

19. Esra het elke dag, vir die volle duur van die fees, ’n gedeelte van die wet van die Here voorgelees. Die fees het sewe dae geduur en op die agtste dag is daar ’n plegtige afsluitingseremonie gehou.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 8