Ou Testament

Nuwe Testament

Joël 2:12-27 Die Boodskap (DB)

12. Die Here sê: Verander julle manier van leef, nou dadelik! Draai terug na My toe. Hou op om te eet omdat julle huil en treur oor al julle sonde.

13. Moenie julle klere skeur om te wys julle is jammer oor julle sondes nie. Julle berou moet uit julle binneste uit kom; julle manier van leef moet verander. Kom terug na die Here julle God toe.Hy is vol goedheid en Hy kry mense gou-gou jammer. Hy is nie haastig om te straf nie, Hy is vol liefde vir mense. Hy is bereid om sy straf terug te trek en mense te vergewe.

14. Wie weet of die Here nie dalk van plan sal verander en sal ophou om vir julle kwaad te wees nie! Dalk gee Hy weer vir julle groot oeste. Dan kan julle weer vir die Here julle God offers van koring en wyn bring om Hom te eer.

15. Blaas op trompette in Sion! Roep ’n vasdag uit waar almal sonder kos klaarkom om te wys hulle is regtig jammer oor hulle sonde. Roep die gemeente op vir ’n vergadering.

16. Kry almal bymekaar. Maak hulle gereed vir ’n spesiale byeenkoms. Bring die oumense, die kinders en die babas. Selfs pasgetroude paartjies wat op wittebrood is, moet hierdie vergadering bywoon.

17. Die priesters wat in diens van die Here is, moet tussen die ingang van die tempel en die altaar, daar waar die offers gebring word, gaan staan en huil. Hulle moet ernstig bid: “Here, kry u mense jammer. Moenie toelaat dat ander volke spot met ons wat aan U behoort en vermakerig vir ons vra: ‘Waar is Israel se God?’ nie.”

18. Toe het die Here sy mense en sy land jammer gekry.

19. Hy sê toe: Ek sal sorg dat julle binnekort te veel koring, wyn en olyfolie sal hê. Dan sal die ander nasies wat My nie ken nie, julle nie langer kan spot nie.

20. Ek sal die sprinkane wat as julle vyand uit die noorde gekom het, van julle af wegjaag die woestyn in. Hulle voorpunt sal Ek in die Dooie See laat verdrink en hulle agterhoede in die Middellandse See. Hulle het te veel van hulleself gedink; daarom sal die slegte reuk van dooie liggame oral in die lug bly hang.

21. Hou dadelik op om bang te wees, ploeglande. Wees baie bly en juig, want die Here het ’n groot wonderwerk gedoen.

22. Ook julle, diere van die veld, hou dadelik op om bang te wees, want die weivelde is nou weer groen en daar is vrugte aan die bome. Die vyebome en die wingerde is oortrek van die vrugte.

23. Wees bly, inwoners van Sion, juig tot eer van die Here julle God! Die reën wat van Hom af kom, is ’n teken dat Hy regtig vir julle omgee. Dit is Hy wat die winterreën laat kom het en die lentereën weer laat val het, presies soos voorheen.

24. Daar sal hope koring langs die dorsvloer lê. Die wyn- en olyfperse sal oorloop van die wyn en olie.

25. Ek sal opmaak vir dit wat julle verloor het toe Ek al daardie sprinkane gestuur het om julle oeste te verwoes.

26. Julle sal weer genoeg hê om te eet. Dan sal julle die Naam van die Here julle God grootmaak en loof vir die wonderlike dinge wat Hy vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer so verneder word nie.

27. Dan, Israel, sal julle weet dat Ek regtig by julle is en dat net Ek, die Here, julle God is, niemand anders nie. My volk sal nooit weer so verneder word nie.

Lees volledige hoofstuk Joël 2