Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 28:6-20 Die Boodskap (DB)

6. Vir die regters wat die hofsake moet hanteer, sal Hy ’n sin vir reg en regverdigheid gee en vir die soldate wat die stad teen aanvalle van buite moet beskerm, sal Hy moed gee.

7. Selfs die priesters en profete loop en slinger in die strate. Hulle is so dronk van die wyn en ander drank wat hulle drink dat hulle nie hulle ampspligte behoorlik kan uitvoer nie. Die profete is te beneweld om die visioene te verstaan wat die Here vir hulle gee en die priesters is so dronk dat hulle nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie.

8. Daar is nie ’n plek op hulle tafels wat nie met hulle braaksel bemors is nie.

9. Hulle spot met my en vra: “Wie dink Jesaja miskien is hy dat hy ons wil kom leer? Wat kan hy ons vertel wat ons nie self weet nie? Dink hy ons is ’n klomp pap babatjies?

10. Hy is net soos ’n ma wat vir haar kind ’n rympie wil leer. Letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël, alles word oor en oor gesê.”

11. Hoor mooi wat ek vir julle sê: Julle wil nie na my luister nie, daarom gaan God vreemdelinge stuur om met julle te praat in ’n taal wat julle nie verstaan nie. Dit sal julle ’n les leer!

12. God het vir sy volk rus en vrede in hierdie land belowe as hulle na Hom sou luister, maar hulle wou nie.

13. Daarom spel die Here nou sy boodskap vir hulle uit in heel eenvoudige taal, letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël. Ten spyte hiervan sal hulle oor hierdie eenvoudige woorde struikel en val om nooit weer op te staan nie. Hulle sal gewond, gevang en met toue vasgebind word.

14. Die Here het iets vir julle te sê, julle arrogante klomp leiers van Jerusalem.

15. Julle loop en spog dat julle onsterflik is, dat julle ’n ooreenkoms met die dood het. Julle dink die vloedgolf van die aanvallers wat op julle afkom, kan niks aan julle doen nie omdat julle agter ’n muur van leuens en bedrog skuil, asof julle die dood kan uitoorlê.

16. Die Here wat oor alles regeer, het vir julle ’n boodskap: Ek lê ’n fondament in Sion en sit ’n hoeksteen van graniet daarop neer wat sterk en veilig is om op te bou. Iemand wat op die Here vertrou, hoef nie paniekerig te word en te vlug nie.

17. Ek gaan die meetstok van reg en die waterpas van geregtigheid gebruik om julle bouwerk te toets. Julle dink julle mure is stewig, maar omdat dit op leuens gebou is, sal dit verkrummel soos wanneer ’n haelstorm deur ’n gebied trek en verwoesting saai. Omdat dit op bedrog rus, sal die vyand kom en soos ’n vloedgolf daaroor spoel.

18. Dan sal daar van julle sogenaamde ooreenkoms met die dood en julle onsterflikheid net mooi niks oorbly nie. As die aanvallers op julle afstorm, sal hulle julle met die grond gelykmaak.

19. Weer en weer sal hulle aanval, sonder ophou, dag na dag, enige tyd van die dag of nag. Iemand wat hierdie boodskap verstaan, sal angsbevange raak.

20. Al julle planne sal niks help nie. Dit is soos die spreekwoord wat sê dit help nie om jou te probeer uitstrek op ’n bed wat te kort is of om jou behoorlik te probeer toemaak met ’n kombers wat te klein is nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 28