Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 14:18-32 Die Boodskap (DB)

18. Al die ander konings van die aarde lê begrawe in hulle koninklike grafte vol prag en praal,

19. maar kyk na jou, jy het nie ’n behoorlike graf nie. Hier lê jy weggegooi soos ’n vrot tak wat niks beteken nie. Jy is sommer saam met die gewone mense wat in die oorlog dood is in ’n groot, gesamentlike graf gegooi. Hulle loop sonder eerbied oor jou lyk terwyl hulle die gat met klippe toegooi.

20. Jy sal nie soos ’n koning begrawe word nie, want jy het jou volk vernietig en jou eie mense laat doodmaak. So ’n skurk sal nooit onthou word nie.

21. Begin die slagting! Die seuns van hierdie koning mag nie toegelaat word om sy werk voort te sit nie. Op grond van wat hy gedoen het, mag hulle nie die kans kry om te regeer of weer stede te bou nie.

22. Ek self gaan Babel aanval, sê die Here, die Almagtige. Ek gaan die koning se nageslag en alles wat aan hom behoort het, uitroei. Daar sal net mooi niks oorbly van alles wat aan hom behoort het nie.

23. Ek sal Babel in ’n moeras verander. Net die uile sal daar wil bly, want Ek gaan hierdie stad met ’n besem wegvee totdat daar niks oorbly nie, sê die Here die Almagtige.

24. Die Here die Almagtige het die volgende eed afgelê: Al my planne sal uitgevoer word net soos Ek My dit voorgeneem het.

25. Ek sal die Assiriërs hier in my land verpletter en hulle op my berge vertrap. So sal Ek my volk bevry van die Assiriërs se oorheersing en die swaarkry wat hulle moes verduur.

26. Ek het my planne gereed om die nasies van die wêreld te straf en Ek staan gereed om dit uit te voer.

27. Wie kan die Here die Almagtige se planne in die wiele ry? Daar is niks of niemand wat Hom kan keer wanneer Hy besluit het om te straf nie.

28. Hierdie uitspraak kom uit die jaar toe koning Agas dood is:

29. Julle klomp Filistyne moet nie te gou bly word omdat die koning wat julle laat swaarkry het, dood is nie. Sy stok waarmee hy julle geslaan het, mag dalk stukkend wees, maar sy seun wat hom opvolg, is nog erger as hy. Uit die slang word ’n giftige adder gebore, nee, nog erger, ’n vlieënde draak.

30. Maar Ek, die Here, sal die armes en die behoeftiges van my volk soos ’n herder versorg en beskerm. Hulle sal genoeg hê om te eet en ’n veilige plek om in te bly. Dieselfde geld ongelukkig nie vir julle nie. Ek sal julle nageslag van honger laat doodgaan sodat daar niemand oorbly nie.

31. Huil en roep om hulp, Filistynse stede. Krimp inmekaar van vrees, julle klomp Filistyne. Daar kom ’n magtige leër uit die noorde aan soos ’n rookwolk wat saam met ’n verterende vuur gaan. Hierdie leër is vasberade en dapper, nie een van hulle sal omdraai nie.

32. Wat sal ons vir die boodskappers van die Filistyne sê as hulle by ons aankom? Sê vir hulle: “Die Here self het Jerusalem gebou en sy mishandelde volk sal veilig wees daar.”

Lees volledige hoofstuk Jesaja 14