Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 5:4-9 Die Boodskap (DB)

4. Eers het ek gedink: “Wat kan ’n mens nou ook eintlik van arm en eenvoudige mense verwag? Hulle weet nie van beter nie. Hulle besef nie regtig wat die Here van hulle verwag nie.

5. Ek sal met die leiers gaan praat. Ek is seker hulle weet wat dit van ’n mens vra om die Here te dien en wat die vereistes is wat Hy stel.” Maar hulle was maar net soos die ander, sonder kennis en insig. Hulle het in opstand gekom en geweier om die Here te gehoorsaam.

6. Daarom sal Juda se vyand hulle soos roofdiere aanval. Hulle is soos leeus wat in ’n bos lê en dan uitkom om mense dood te maak. Soos woestynwolwe wat ander verskeur. Soos ’n luiperd wat naby die stede lê en loer en enigiemand wat dit waag om uit te kom uitmekaarskeur. Dit sal gebeur omdat hulle so baie goed verkeerd doen en dislojaal aan die Here is.

7. Die Here wil by Juda weet: “Hoe kan Ek julle vergewe? Selfs julle kinders het teen My in opstand gekom. Hulle beloof om getrou te wees aan gode wat nie eens regte gode is nie. Ek het nog altyd baie goed vir hulle gesorg. En hoe wys hulle hulle dankbaarheid? Hulle loop agter ander gode aan en is net soos mense wat tyd by bordele deurbring.

8. Of hulle is soos goedversorgde perde wat altyd op soek is na ’n merrie, soos mans wat ’n buurman se vrou wil hê.

9. Moet Ek hulle nie hieroor straf nie? Moet Ek nie wraak neem op hulle nie?” wil die Here weet.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 5