Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 48:22-37 Die Boodskap (DB)

22. Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim,

23. Kirjatajim, Bet-Gamul, Bet-Meon,

24. Kerijot en Bosra. Al Moab se stede wat naby en ver is, sal so gestraf word.

25. Moab het sy krag verloor. Die land is magteloos soos ’n bul waarvan die horing afgesny is of soos iemand wie se arm gebreek is,” sê die Here.

26. Hy sê ook: “Laat Moab slinger en val soos ’n dronk mens, want hy hou hom opstandig teen My. Laat Moab in sy eie braaksel rol sodat ander hom sal spot.

27. Het jy nie met Israel die spot gedryf nie, Moab? Jy het met Israel gemaak soos ’n mens met iemand sou maak wat tussen diewe betrap word. Jy het op Israel neergesien.

28. Burgers van Moab, vlug uit julle stede uit! Gaan bly in grotte soos duiwe wat hulle neste in die bek van ’n grot maak.

29. Ons het gehoor dat Moab ’n baie groot dunk van hulleself gehad het. Hulle was baie hoogmoedig en arrogant. Ons het verder gehoor van Moab se vermetelheid, trots en selfvoldaanheid.

30. Ek weet dat Moab verwaand was. Maar al hierdie grootpratery loop op niks uit nie, dit is vals.

31. Daarom huil Ek oor Moab. Ek treur oor die mense van Kir-Geres.

32. Sibma is bekend vir sy wingerde. Ek treur meer oor Sibma se mense as oor Jaeser. Die takke van julle wingerd het vroeër so ver uitgesteek dat dit selfs tot by die Dooie See en Jaser gekom het. So wyd was julle mense versprei. Maar nou het ’n vyand wat julle wil verwoes, op julle toegesak. Hulle help hulleself aan julle somervrugte en julle druiwe.

33. Moab was eens op ’n tyd ’n vrugbare plek. Maar nou het al die blydskap en vreugde uit Moab verdwyn. Julle blydskap is van julle af weggevat. Ek het gesorg dat daar nie meer wyn uit die wynpers kom nie. Daar is ook nie meer mense wat opgewek gesels terwyl hulle druiwe pars nie. Daar is mense wat skree, maar hulle doen dit nie omdat hulle bly is nie.

34. Om die waarheid te sê, die mense gil en skree van angs omdat hulle bang is. Die krete kan duidelik van Gesbon tot aan die ander kant by Elale en Jahas gehoor word. Verder ook weer van Soar af tot by Gonorajim en Eglat-Selisija. Selfs die waters van Nimrim het nou opgedroog.”

35. Die Here sê: “Ek sal dit stopsit dat mense na plekke toe gaan waar hulle offers bring en wierook brand om hulle gode op so ’n manier te eer.

36. In my hart voel Ek bitter jammer vir Moab en vir die mense van Kir-Geres. My gevoel is soos wanneer ’n mens die hartseer klanke van ’n fluit hoor. Ek voel hartseer, want al hulle rykdom is weg.

37. Hulle doen alles wat die mense gewoonlik doen as hulle rou. Almal loop met ’n kaalgeskeerde kop en met baarde wat afgesny is. Hulle het snymerke aan hulle hande en hulle dra klere van sak.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 48