Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:9-23 Die Boodskap (DB)

9. Ek het die stuk grond by Anatot by my neef Ganamel gekoop. Ek het hom sewentien silwer munte daarvoor betaal.

10. Toe het ek die koopkontrak geteken en dit verseël terwyl daar getuies was wat gesien het wat ons doen. Daarna het ek hom die sewentien silwer munte betaal wat ek afgeweeg het.

11. Die koopkontrak het al die voorwaardes en ooreenkomste tussen Jeremia en Ganamel ingehad. Ek het toe die koopkontrak wat verseël was en ook ’n afskrif wat nie verseël was nie, gevat

12. en ek het dit vir Baruk die seun van Nerija gegee. Nerija was die seun van Magseja. Ek het al hierdie goed voor my neef Ganamel en die getuie wat die koopkontrak geteken het, gedoen. Ek het dit ook gedoen voor al die Jode wat in die binnehof waar die wagte gebly het, gesit het.

13. Ek het toe voor almal vir Baruk gesê:

14. “Die Here, die God van Israel, is sterker as alles en almal. Hy het gesê: ‘Vat die verseëlde en die oop koopkontrak en sit dit in ’n kleipot sodat dit vir ’n lang tyd gebêre kan word.

15. Want eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”

16. Toe ek die koopkontrak vir Baruk gegee het, het ek gebid en gesê:

17. “Ag Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is te moeilik vir U om te doen nie!

18. Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar dit is ook so dat U die kinders straf vir die verkeerde goed wat hulle ouers gedoen het. Here, u mag is baie groot. Mense praat van U as die Here wat sterker as alles en almal is.

19. U is slim. U weet alles. U kan ook goed doen wat vir die mense te wonderlik is om te verstaan. Daar is niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het.

20. Destyds het U in Egipte buitengewone dinge gedoen. U het tekens en wonders gedoen. U doen dit nog steeds vandag in Israel en onder alle mense. Selfs vandag is U steeds daarvoor bekend.

21. “Toe U Israel uit Egipte gebring het, het U dinge gedoen wat groot en wonderlik is. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het die vyand verskriklik bang gemaak.

22. U het hierdie land aan die mense van Israel gegee. Reeds baie jare terug het U aan hulle voorouers belowe dat U vir hulle ’n land sou gee. Dit sou ’n vrugbare land wees waar melk en heuning volop sou wees.

23. Ons voorouers het toe hierdie land ingeval en dit hulle blyplek gemaak. Maar hulle wou nie na U luister nie. Hulle wou ook nie die riglyne wat U vir hulle gegee het oor hoe hulle moet lewe, volg nie. Hulle het omtrent niks van alles wat U van hulle verwag het, gedoen nie. Dit is hoekom hierdie slegte goed hulle nou tref.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32