hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Habakuk 1 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het Habakuk as profeet gebruik. Wat volg, is wat die Here vir hom gesê het.

Habakuk se klagte

2. Here, hoe lank moet ek nog bly roep dat U moet help? Dit klink nie of U hoor nie. Ek kla by U omdat mense ons aanrand en doodmaak, maar U red ons nie.

3. Hoekom laat U my hierdie verkeerde dinge sien? Hoekom verdra U dit dat mense swaarkry? Waar ek ook al kyk, lê dinge verwoes. Dit is ’n wêreld vol geweld. Oral stry en baklei mense.

4. Mense steur hulle nie aan die wet nie. Die howe sorg nie dat wat reg is die wenner is nie.

Die Here se antwoord

5. Die Here het toe vir die mense van Juda gesê: Hou ’n bietjie die ander volke om julle dop. Ek het binnekort ’n groot verrassing vir julle. As iemand julle daarvan sou vertel het, sou julle hom nie geglo het nie.

6. Hier is dit: Ek maak die Babiloniërs die mag wat al die volke in die wêreld sal oorheers. Hulle reputasie is oral bekend, hulle is ’n wrede en woeste spul mense. Hulle stuur hulle soldate die wêreld vol en dan neem hulle lande in.

7. As mense net aan hulle dink, dan raak hulle bang en lam van vrees. Hulle is so arrogant, hulle maak hulle eie wette oor wat reg en verkeerd is.

8. Hulle soldate wat op perde ry, maak ook groot indruk. Hulle perde lyk so vinnig dat ’n mens die idee kry dat hulle vinniger as luiperds is en skrikwekkender as honger wolwe. Hulle ruiters kom van ver af aangejaag en sak dan nes arende soos blits op hulle prooi toe.

9. Hulle leërs het net een doel en dit is om mense links en regs dood te maak. Hulle ken net een rigting en dit is vorentoe. Hulle het al so baie mense gevang dat hulle te veel is om te tel.

10. Die Babiloniërs het respek vir niks en niemand nie. Hulle dryf die spot met konings en verkleineer regeringsleiers. Hulle laat hulle ook nie afsit deur die hoë veiligheidsmure wat om stede gebou is nie. Hulle hoop doodeenvoudig grond daarteen op en klim dan oor die mure en neem die stad in.

11. Daarna swiep hulle soos die wind voort en verdwyn net. Vir hierdie mense is hulle eie mag hulle god. Hulle glo hulle mag kan nie misluk nie.

Habakuk kla ’n tweede keer

12. Here, U was van altyd af daar en sal altyd daar wees. My God, U is volmaak, ’n mens kan nie anders nie as om U te aanbid. Here, by U het ons ook nog altyd veilig gevoel, maar nou het U die Babiloniërs aangestel om te wys dat ons skuldig is. U gebruik hulle om ons te straf vir alles wat ons verkeerd gedoen het.

13. U is so volmaak dat dit onmoontlik is om te dink dat U sulke verkeerde dinge sal sien gebeur en dit doodgewoon sal aanvaar. Hoe is dit dan moontlik dat U sien wat hierdie boosdoeners aanvang en stilbly daaroor? Hulle wis mense uit wat beter as hulle leef.

14. Hoe kan U mense so sonder beskerming los soos visse in die see wat enigeen sommer kan vang of soos ’n swerm insekte wat nie ’n leier het nie?

15. Visse word met ’n hoek gevang of in nette bymekaargemaak en weggesleep. Die Babiloniërs werk net so gevoelloos met mense en dan is hulle baie in hulle skik met wat hulle regkry.

16. Hulle maak soos vissers wat hulle nette en hengelgereedskap aanbid asof dit gode is. Hulle bring vir die gereedskap offers en brand wierook omdat dit hulle ryk maak en sorg vir ’n oorvloed kos.

17. Here, gaan U toelaat dat hierdie vyand vir altyd so aanhou om genadeloos met volke te werk en hulle dood te maak?