hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Nahum 3 Die Boodskap (DB)

Die Here straf Nineve

1. Daar lê swaarkry vir jou voor, Nineve! Mense dink aan jou as ’n stad waar mense mekaar vermoor en bedrieg asof dit iets is wat sommer elke dag gebeur. Kyk maar net, jy is altyd vol gesteelde goed en jou mense hou net aan om te steel.

2. So lyk dit waar die geveg aan die gang is: Swepe klap! Wiele rammel! ’n Mens hoor perde wat galop en oorlogswaens wat bokspring op die paaie.

3. Verder sien ’n mens perderuiters wat aangejaag kom, swaarde wat blink en spiese wat blits in die son. Daar is baie slagoffers van die geveg. Die dooies lê opgehoop, die lyke is te veel om te tel. Mense val oor al die lyke wat rondlê.

4. Hoekom gebeur dit? ’n Mens hoef nie te ver te soek vir ’n rede hoekom hierdie straf gegee is nie: Nineve het haar dikwels soos ’n los vrou gedra. Sy was ’n baie mooi vrou. Sy het jou maklik betower. Maar sy het dit gebruik om volke te verlei. Sy het hulle geleer om haar gode te aanbid. Só het sy hulle in haar mag gekry.

5. Die Here wat groot en magtig is, sê: Ek is jou vyand, Nineve! ’n Mens verneder iemand as jy sy klere uittrek en hom kaal voor mense laat staan. Ek sal dit ook met jou doen. Ek sal jou in die oë van die wêreld verneder deur jou swak te laat lyk.

6. As jy so ’n mens ook nog verder met mis gooi, maak jy hom nog net meer walglik. Ek sal sorg dat mense oral oor die wêreld hulle vir jou walg en met jou spot.

7. Hulle sal die rug vir jou draai en sê: “Nineve is verwoes, maar wie gee enigsins om?” Dit sal in die toekoms moeilik wees om iemand te kry wat saam met Nineve sal wil werk. Nineve sal nie vriende hê nie.

8. Nineve, hoe kan jy enigsins dink dat jy beter daaraan toe is as Thebe? Die Egiptiese stad Thebe was dan omring met die water van die Nyl. Dit was soos ’n muur wat die stad aan alle kante beskerm het.

9. Verder het hierdie stad sterk en invloedryke volke in die Midde-Ooste as vriende gehad.

10. En tog is Thebe deur ’n vyand ingeval. Hulle het die mense van die stad gevang en hulle na ’n ander land toe weggevat. Nog erger as dit, die invallers het die klein kindertjies op die straathoeke doodgeslaan. Die soldate het ook lootjies getrek oor wie die belangrike mense van Thebe as hulle slawe gaan kry. Hulle het die leiers met kettings vasgebind.

11. Dieselfde gaan met jou gebeur, Nineve! Jy sal so bang wees dat jy jou dronk sal drink in die hoop dat dit jou sal help. Jy sal ook ’n wegkruipplek probeer kry waar jou vyand jou nie sal kry nie.

12. Dit is maklik om ryp vye van ’n vyeboom af te skud en te eet. Net so maklik sal dit vir die vyand wees om Nineve se wegkruipplekke, wat veronderstel was om veilig te wees, in te neem.

13. Jou soldate sal ook nie dapper wees soos eintlik van hulle verwag word nie. Jou landsgrense sal wyd oop wees soos ’n hek wat afgebrand is. Jou vyande sal baie maklik daar kan inkom. Daar sal niks wees wat in hulle pad staan of hulle keer nie.

14. Maak julle reg, die vyand gaan die stad omsingel! Sorg dat daar genoeg water opgegaar is en maak julle verdedigingsplekke nog sterker. Maak stene van klei wat goed gebrei is. Julle moet ook julle stukkende stadsmuur regmaak.

15. Maar eintlik sal dit nie veel help om al hierdie dinge reg te kry nie. Selfs daar waar julle dink julle is veilig, sal julle doodbrand of in die geveg sterf. Soos sprinkane landerye eet dat daar niks oorbly nie, so sal die vyand met julle klaarspeel. Dit sal julle nie eens help dat julle baie mense is nie.

16. Die handelaars wat met julle besigheid doen, is so baie soos die sterre in die hemel, maar dit sal julle nie regtig help nie. Soos sprinkane sak hulle toe en vat wat hulle kan kry. Maar as hulle klaar is, verdwyn hulle en laat niks agter wat vir ander mense goed is nie.

17. Jou offisiere en jou amptenare is mooiweersvriende. Wanneer hulle iets uit ander mense kan kry wat vir hulle goed is, werk hulle so mooi saam. ’n Mens dink nogal jy kan hulle vertrou. Maar hulle is gou om te verdwyn as hulle dink hulle gaan êrens anders iets beters kry.

18. O koning van Assirië, jy kan nie langer op jou leiers vertrou nie, hulle is almal dood. Die situasie is hopeloos, want jou mense is oraloor verstrooi. Hulle het niemand om hulle te lei nie.

19. Jou omstandighede is soos ’n wond wat nie gesond wil word nie. Uiteindelik gaan ’n mens daarvan dood. Dis die einde, niks kan aan jou omstandighede gedoen word nie. Dit is soos dood. Jou wreedheid het nie grense gehad nie. Baie mense het swaar onder jou wreedheid gely. Vir hulle is die nuus van jou ondergang baie goeie nuus. Hulle is verskriklik bly daaroor!