hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Habakuk 3 Die Boodskap (DB)

Habakuk se gebed

1. Hier is die gebed wat die profeet Habakuk gebid het:

2. Here, ek was verstom toe ek gehoor het van al die dinge wat U gedoen het. Ek bid dat U nou in ons nood weer hierdie buitengewone dinge sal doen. Here, wees genadig, selfs al is U vir ons kwaad.

3. Die Here was al in die verlede by Israel betrokke toe hulle nog deur die woestyn getrek het. Kyk ’n mens na die hemel en die aarde, dan sien jy iets van die groot en heerlike teenwoordigheid van die Here.

4. As ons sy teenwoordigheid sou kon beskryf, sou dit soos helder lig wees wat uitgestraal word en soos weerlig wat blits. Iewers agter die ligglans is sy groot krag weggesteek.

5. Die teenwoordigheid van die Here veroorsaak vir sommige mense die dood.

6. As hy kom, is dit soos ’n aardbewing wat ’n mens beangs maak. Oeroue berge en heuwels bars uitmekaar en verkrummel van die geskud, niks word onaangeraak gelaat nie.

7. Ek kon die uitwerking van die Here se teenwoordigheid ook op van die ander volke sien. Hulle het in angs aan die bewe gegaan.

8. Sommige mense glo dat riviere en die see sterk magte is wat vyande van die Here is. Die Here is kwaad hieroor. Hy sal daarom soos ’n goed gewapende soldaat veg teen hierdie magte wat hulle gesag uitdaag. Hy sal wen!

9. Hy is reg vir sy vyand en sy wapens sal vir seker sorg dat Hy die geveg sal wen. Hy breek die aarde oop vir die riviere om te vloei.

10. Die natuur reageer op sy teenwoordigheid. Berge bewe, swaar reën spoel in sterk strome af en die ondergrondse water dreun en bruis hoog op.

11. Ook die son en die maan lyk dof teen die blitsende en vernietigende teenwoordigheid van die Here.

12. In sy woede trek Hy oor die aarde om die nasies te straf.

13. Die Here se doel was om Juda te verlos en die koning wat Hy oor hulle aangestel het te red. Hy sal die bevelvoerder van die goddelose mense verslaan en sy mag verbreek.

14. Toe die soldate van die vyand op die volk van die Here afgestorm het om hulle uitmekaar te jaag, het die Here die bevelvoerder deur sy eie wapen laat sterf. Hulle het gedink Israel is ’n maklike prooi.

15. Maar Hy sal sy volk verlos. Die Here tref die see met sy perde sodat die magtige waters opbruis, net soos destyds by die Rietsee met die uittog uit Egipte. Toe het Hy sy volk gered.

16. Toe ek hierdie dinge gehoor het, het ek aan die ruk gegaan en my lippe het gebewe omdat ek bang was. ’n Lam gevoel het oor my gekom en my bene het onder my padgegee. Ek het besluit dat ek rustig en stil sal wag vir die dag wanneer die Here se straf gaan kom oor die Babiloniërs wat Juda ingeval het.

17. My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie. Al dra die vyeboom nie vye nie en is daar nie druiwe aan die wingerd nie; al misluk die olyfoes en lewer die landerye geen oes op nie; of al vrek die skape en die beeskrale is leeg,

18. sal ek die Here met ’n hart vol blydskap dien. Ek het al ervaar hoe die Here my uit moeilike omstandighede red.

19. Die Here wat as koning regeer, gee vir my die krag wat ek nodig het. Hy maak dit vir my moontlik om probleme sonder moeite te kan hanteer. (’n Nota vir die afrigter van die koor: Snaarinstrumente moet saam met die gebed gespeel word).