Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:9-21 Die Boodskap (DB)

9. Daarom, luister mooi, skaapwagters.

10. So sê die Here, die God van Esegiël: “Julle is van nou af my vyande, skaapwagters! Ek hou julle verantwoordelik vir elke skaap. Julle sal vir My moet kom sê hoe dit met elke skaap gaan en wat van elke skaap geword het. En julle sal ook nie meer vir my skape kos gee nie, want Ek kan julle nie vertrou nie. Julle vat die kos vir julleself. Julle sal nie langer slag en eet soos julle wil nie. Ek red my skape uit julle hand.”

11. Nou sê die Here, Esegiël se God: “Ek soek self my skape wat weg is. En as Ek hulle kry, bring Ek hulle terug en gee vir hulle kos.

12. Ek is van nou af die Skaapwagter wat vir hierdie trop skape sorg wat oor die hele wêreld rondloop. Ek sal hulle gaan soek en hulle red. Die dag toe dit bewolk was en die lug donker was, het baie van my skape verdwaal.

13. Maar Ek sal hulle gaan soek en hulle veilig terugbring huis toe. Ek bring hulle terug na hulle eie land toe, na Israel. Ek gaan haal hulle tussen die ander volke uit waar hulle as gevangenes woon. Dan sal Ek vir hulle genoeg kos gee. Hulle sal op die heuwels wei en by die riviere water drink. Hulle sal veilig wees omdat daar oral mense sal wees wat hulle beskerm.

14. Ja, Ek loop voor die skape uit en bring hulle by die beste weiveld. Op die hoogste berge van Israel sal hulle die beste gras kry. En as hulle klaar gewei het, sal hulle veilig lê en rus. Want Ek is daar tussen hulle. Ek beskerm hulle. Ek gee vir my skape net die beste.

15. Van nou af sal Ek self vir my skape sorg. Ek vertrou hulle nie meer aan enigiemand toe nie. My skape sal rustig wees. As hulle rus, sal niks hulle versteur nie.” Dit is die Here, die God van Esegiël, wat so sê.

16. “Ek sal self daardie skape gaan soek wat wegdwaal en verlore raak. Ek sal hulle veilig huis toe bring. En as ’n skaap seerkry, sal Ek self vir hom sorg. Ek sal sy wond verbind. Die swak skape sal Ek op my skouers dra. Maar die vet skape wat ander seermaak, sal Ek laat slag. My skape sal goed behandel word, want Ek gee vir hulle om.”

17. Dit is Ek, die Here, die God van Esegiël, wat vir die kleinvee wat aan My behoort, sê: “Julle is my volk. Ek sal sorg dat daar aan die skape en die bokke reg gedoen word. Ek sal hulle leer om mekaar reg te behandel. Ek sal ook nie meer die skape en die bokke tussen mekaar laat wei nie. Nee, hulle sal in twee troppe wei.

18. Party van die skape en bokke was selfsugtig. Hulle het die beste gras afgevreet en die res van die gras vertrap. Daar was nie gras oor vir die ander skape nie. Of hulle het die beste water gedrink en dan in die water gespring sodat dit vol modder geword het. Die ander skape het dan nie lekker water gehad om te drink nie.

19. Al wat vir die res van die trop oorbly, is die gras wat julle vertrap het en die water wat julle vuil gemaak het.

20. “Daarom gaan Ek die vet skaap en die maer skaap voor My roep. Ek gaan oor hulle toekoms besluit nadat Ek gesien het hoe hulle optree. Ek gaan kyk wie het reg gedoen, en wie het slegte dinge doen.” So sê die Here, Esegiël se God:

21. “Julle vet skape het die ander skape weggestoot sodat hulle nie by goeie gras kon uitkom nie. Julle het die swak en die honger skape met julle horings weggedruk totdat hulle vandag gevangenes in ver en vreemde lande is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34