Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:19-31 Die Boodskap (DB)

19. Al wat vir die res van die trop oorbly, is die gras wat julle vertrap het en die water wat julle vuil gemaak het.

20. “Daarom gaan Ek die vet skaap en die maer skaap voor My roep. Ek gaan oor hulle toekoms besluit nadat Ek gesien het hoe hulle optree. Ek gaan kyk wie het reg gedoen, en wie het slegte dinge doen.” So sê die Here, Esegiël se God:

21. “Julle vet skape het die ander skape weggestoot sodat hulle nie by goeie gras kon uitkom nie. Julle het die swak en die honger skape met julle horings weggedruk totdat hulle vandag gevangenes in ver en vreemde lande is.

22. Daarom gaan Ek my trop skape red. My skape sal nie langer sleg behandel word nie. Niemand sal hulle meer doodmaak nie. Want Ek sal sorg dat reg gedoen word tussen een skaap en ’n ander.

23. Ek stel self ’n skaapwagter oor my skape aan. Hy sal so ’n goeie leier wees soos koning Dawid. Hy sal sorg dat my skape op presies die regte tyd kos kry. Hy sal ’n goeie skaapwagter vir my skape wees.

24. Ek, die Here, sal my skape se God wees. En Dawid sal soos die seun van ’n koning tussen my mense wees. Almal sal hom volg. Ek, die Here, het so gesê!”

25. “Daardie dag maak Ek ’n ooreenkoms met my trop skape. Ek belowe dat Ek al die gevaarlike wilde diere uit die land sal wegjaag. My skape sal op enige plek kan loop. Hulle sal selfs oornag buite kan slaap sonder om bang te wees vir roofdiere.

26. Ek laat dit goed gaan met my volk. In al hulle huise wat rondom my huis in Jerusalem gebou is, sal daar meer as genoeg wees. Ek stuur die heerlikste reënbuie elke keer as dit begin droog word. Dit sal goed gaan met my mense. Hulle sal genoeg van alles hê.

27. Hulle sal elke jaar rekordoeste hê. Die vrugtebome se takke sal swaar hang van al die vrugte. En die landerye sal elke jaar ’n goeie oes gee. My volk sal veilig in hulle land woon. Hulle sal geen vyand hê wat hulle bedreig nie. Hulle sal nie meer gevangenes van ander nasies wees en in vreemde lande bly nie. Ek sal hulle daar gaan uithaal en terugbring na hulle eie land. Dan sal my volk weet dat Ek die Here is.

28. Ander nasies sal hulle nie meer aanval nie. En wilde diere sal hulle nie meer in hulle eie land aanval nie. Hulle sal veilig wees. Hulle sal nie meer vir enigiets bang wees nie.

29. “Hulle land sal bekend word oor die hele wêreld as die land wat meer as genoeg kos het. My volk sal nooit weer honger ly nie. Hulle sal nooit weer buig voor ander nasies nie, en niemand sal hulle gevange neem en weglei om in vreemde lande te gaan bly nie. Ander nasies sal nooit weer met my volk spot omdat dit so sleg gaan met hulle nie.

30. Wanneer dit gebeur, sal my volk erken dat hulle my volk is.” So sê die Here, die God van Esegiël.

31. “Julle is my trop skape. Julle is die volk wat Ek vir Myself gekies het. Ek sorg vir julle. Julle is my volk, en Ek is julle God,” sê die Here, Esegiël se God.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34