Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 32:16-28 Die Boodskap (DB)

16. Al die mense sal by jou begrafnis sing. Hulle sal sing omdat Egipte en al sy mense dood is,” sê die Here, die God van Esegiël.

17. Op die sewentiende Maart van daardie jaar het die Here verder met my oor Egipte gepraat.

18. “Mens, huil oor die mense van Egipte. Maar huil ook oor die mense van die ander nasies, want Ek laat hulle almal doodgaan. Hulle sal binnekort in die graf wees saam met al die ander mense wat alreeds dood is.

19. Sê vir hulle: Egipte, is jy dalk beter as die ander nasies? Nee! Daarom gooi Ek jou op die grond. Jy lê in die graf saam met die ander nasies wat Ek ook gestraf het.

20. Egipte gaan dood in die oorlog wat Ek stuur. Egipte het in die hof beland oor sy slegte dade, en Ek oordeel hom.

21. Die sterk leiers van die nasies wat Ek reeds doodgemaak het en wat nou in die graf lê, sê: ‘Welkom, Egipte! Julle het nou julle verdiende loon gekry. Julle lê nou tussen ons almal wat deur die Here vernietig is. Ons is almal in die oorlog doodgemaak.’

22. “Assirië lê daar. Rondom hom is die grafte van al sy mense. Hulle is in die oorlog doodgemaak.

23. Hulle grafte is diep in die grond gegrawe. Al hulle soldate lê ook daar. Vroeër het hulle baie mense doodgemaak. Almal was vir hulle bang. Kyk waar lê hulle nou! In die graf. Hulle vyande het hulle doodgemaak.

24. “Elam lê daar. Al die mense van Elam lê ook in die graf. Ek het hulle soontoe weggejaag toe Ek hulle gestraf het. Almal was doodbang vir hulle. Maar waar is hulle nou? Hulle lê doodstil in die graf. Hulle kan niks doen nie. Ek het hulle tot in die dood toe verneder.

25. Hulle lê nou magteloos daar saam met die ander wat in die oorloë dood is. Die grafte van al hulle mense is rondom hulle. Vroeër was die hele wêreld bang as jy net hulle naam noem. Maar nou lê hulle in die graf. Daar het niks van hulle oorgebly nie.

26. “Mesek-Tubal is ook daar, in die graf. Al hulle soldate se grafte is om hulle. Vroeër het mense gebewe as hulle van hierdie soldate gehoor het. Maar nou het Ek hulle van die aarde afgevee. Hulle is in die oorlog doodgemaak.

27. Hulle het nie eens behoorlike begrafnisse gehad soos helde wat in die oorlog dood is nie. Hulle is nie soos helde met militêre eerbewys begrawe nie. Almal was vir hulle bang. En wat het met hulle gebeur? Hulle is sommer in ’n gat in die grond gegooi.

28. “En nou dink jy, Egipte, dat dit met jou goed sal gaan? Ook jy sal van die aarde afgevee word! Jy sal ook doodgemaak word in die oorlog wat Ek stuur. Jy sal saam met die ander in die graf lê.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 32