Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 28:15-26 Die Boodskap (DB)

15. “Jy het niks ooit verkeerd gedoen nie. Jy het reg gelewe en goedgedoen, tot daardie dag dat jy die slegte dinge begin doen het.

16. Jy het die slegte begin doen omdat jy so ryk was. Jy het groot mag oor mense gehad. Toe het jy verkeerde dinge begin doen. Daarom het Ek jou weggejaag sodat jy nooit weer voor My mag kom nie. Jy was die magtige boodskapper wat my huis in die hemel moes oppas, maar Ek het jou weggejaag. Jy sal nie weer kom waar Ek is nie omdat dit daar te skoon vir jou is.

17. “Jy het so trots op jouself geword omdat jy mooi en slim en ryk was. En toe het jy skelm geword sodat jy nog meer geld in die hande kon kry. Jy het almal om jou belieg en bedrieg. Daarom het Ek jou uit die hemel gegooi. Ek het jou op die aarde neergegooi. Die heersers en belangrike mense op die aarde het gekyk hoe jy verneder word.

18. Jy het alles rondom jou vuil gesmeer. Jy het almal met wie jy besigheid gedoen het, bedrieg. Daarom het Ek ’n vuur binne-in jou aan die brand gesteek. En hierdie vuur sal jou verteer. Ek sal jou tot as verbrand. En al die mense van die aarde sal kyk hoe Ek dit doen.

19. Al die mense wat jou op aarde geken het, sal skrik en bewe as hulle sien wat met jou gebeur. Ek maak jou ’n voorbeeld sodat hulle nie sal doen wat jy gedoen het nie. Ek maak ’n verskriklike einde aan jou. Jy sal nie meer bestaan nie!”

20. Die Here het verder vir my gesê:

21. “Mens, kyk in die rigting van Sidon. En sê vir hierdie stad wat Ek vir jou sê.

22. Sê vir die mense van Sidon die Here, Esegiël se God, dink só oor hulle: Ek is jou vyand, Sidon! En Ek gaan Myself bekendmaak deur wat met jou gaan gebeur. Ek gaan jou voor die hof daag en jou skuldig bevind. Dan gaan Ek vir jou wys wie Ek is, die dag as Ek jou straf. Elkeen wat sien wat gebeur, sal dan besef en weet dat Ek die Here is.

23. Ek stuur ’n plaag teen jou. Jy sal doodgaan en jou bloed sal op jou strate lê. Jy sal van alle kante aangeval word. Jou mense sal dood binne-in die stad rondlê. Dan sal almal weet en erken dat Ek die Here is.

24. Jy was Israel se buurman, maar jy was ook nog altyd ’n vyand van hom. Nou sal dit nie meer so wees nie. Jy sal nie meer vir Israel verpes nie. Dan sal almal weet en erken dat Ek die Here is.

25. “Want,” so sê die Here, die God van Esegiël, “daardie dag sal Israel weer in sy eie land bly. Dit is die land wat Ek vir Jakob gegee het. Hy het My gedien as God. Ek sal my volk bymekaarmaak waar hulle as gevangenes in ’n vreemde land bly. Ek het hulle daarheen laat gaan omdat Ek hulle gestraf het. Die dag as dit gebeur, sal al hierdie nasies sien wie Ek is as Ek my volk terugbring.

26. Dan sal Israel veilig in hulle eie land bly. En hulle sal huise bou en wingerde plant. Dan sal Ek al die nasies wat Israel se bure is, straf. Want Israel se bure het hom sleg behandel. Daardie dag sal Israel weet dat Ek die Here hulle God is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 28