Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 27:6-14 Die Boodskap (DB)

6. En hulle het vir jou roeispane gemaak van die eikebome wat by Basan groei. Hulle het jou dek van sipreshout gebou wat van die kus van Siprus af kom. En kan jy dit glo? Hulle het duur ivoor gebruik om jou dek te versier!

7. Hulle het die beste materiaal gebruik om seile van te maak. Mense het hierdie skip uitgeken aan sy seile wat van baie kleure geweef was. Hulle het jou seile pers en rooi gemaak sodat almal jou van ver af kon raaksien.

8. “Die roeiers op jou skip het van Sidon en Arwad gekom. Die ander mense wat op die skip gewerk het, het van Tirus self gekom.

9. Die beste ambagsmanne het op die skip gewerk om enige lekplek dadelik toe te stop. Al die skepe wat op die see gevaar het, het die een of ander tyd ’n draai by Tirus gemaak. Jy was die middelpunt van die aarde se besigheid.

10. En mense oor die hele wêreld het in jou weermag gedien. Hulle het gekom van lande so ver as Paras, Lud en Put. As hulle hulle wapens teen die mure van die stad opgehang het, het almal gesê: ‘Dis ’n groot en sterk stad dié!’

11. Die soldate wat reg gestaan het om die stad te beskerm het van so ver as Arwad gekom. En manne uit Gammad het diens gedoen in die torings van waar die stad veilig gehou is. Hierdie manne het ook hulle wapens teen jou mure opgehang. En was jy nie ’n veilige stad nie!

12. “Die groot en belangrike stad Tarsis was die agent wat vir jou gaan handel dryf het, want jy het soveel goed gehad om te verkoop. Hulle het jou ware verruil vir silwer en yster, tin en lood.

13. Ook Griekeland, Tubal en Mesek het met jou besigheid kom doen. Hulle het slawe en kopergoed gebring wat hulle verruil het vir die handelsware wat hulle by jou gekoop het.

14. Die mense van Bet-Togarma het perde en muile gebring en dit geruil om jou goed in die hande te kon kry.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 27