Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 12:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het weer met my gepraat en vir my gesê:

2. “Mens, jy bly tussen mense wat heeldag en aldag teen My in opstand is. Dit is mense wat oë het om die waarheid self raak te sien, maar hulle weier om te kyk. Hulle het ore om na My te luister, maar hulle weier om te hoor. Hulle is rebelle.

3. Daarom moet jy nou vir jou volk demonstreer wat dit beteken om as gevangenes na ’n vreemde land weggevoer te word. Pak net genoeg in ’n rugsak wat jy kan dra. Sluit dan jou huis en vensters dig toe, asof jy op ’n lang reis vertrek. Tref al jou voorbereidings vir die reis helder oordag sodat almal jou kan sien. Miskien sal hulle dan snap wat Ek vir hulle probeer sê. Maar hulle is so opstandig.

4. “Bring dan jou bagasie buitetoe gedurende die dag terwyl jou mense sien wat jy doen. En dan, terwyl jy almal se aandag het, gaan teen die aand uit jou huis uit, net soos gevangenes doen wat die lang reis na ’n vreemde land aanpak.

5. Grawe ’n gat deur die muur van jou huis terwyl jou mense na jou kyk en tel jou besittings deur die gat.

6. Terwyl hulle dit sien, tel jou bagasie op jou skouers en stap dan weg as die donkerte aanbreek. Maak jou gesig toe. Moenie rondkyk nie. Alles wat jy doen, sal vir Israel herinner aan wat dit beteken as ’n mens deur jou vyande as gevangene weggevoer word.”

7. Ek het toe alles presies gedoen nes die Here vir my gesê het. Helder oordag het ek my bagasie uit die huis gedra. In my bagasie was net dit wat ’n mens sou inpak as jy as ’n gevangene weggevoer word. Daardie aand het ek met my hande ’n gat in die muur gemaak terwyl die mense vir my kyk. Ek het in die donkerte buitetoe gegaan met my bagasie op my skouers.

8. Die volgende oggend het die Here weer met my gepraat. Hy het vir my gesê:

9. “Mens, die volk Israel is mense wat teen My in opstand is. Hulle het vir jou gevra wat alles beteken wat jy gisteraand gedoen het.

10. Gaan sê nou vir hulle: Die Here, die God van Esegiël, sê dat wat Esegiël gedoen het, ’n boodskap vir koning Sedekia is wat in Jerusalem woon, en vir die mense van Israel wat saam met hom in die land van Israel woon.

11. Verduidelik dan dat wat jy gedoen het, Esegiël, vir die volk wil wys wat baie binnekort met hulle gaan gebeur. Hulle gaan van hulle huise verdryf word. Hulle gaan deur hulle vyande as gevangenes na ’n vreemde land toe gevat word.

12. “Selfs koning Sedekia van Jerusalem sal uit die stad verdryf word. Hy sal een nag deur ’n gat in die stadsmuur moet klim. En hy sal slegs die besittings wat hy op sy skouers kan dra saam met hom vat. Hy sal sy gesig toemaak soos iemand wat as ’n gevangene weggeneem word om die doodstraf te kry vir sy slegte dade. En hy sal nooit weer sy vaderland sien nie.

13. Ek gaan hom vang soos wildvangers ’n verskrikte bok in hulle net vang. En dan sal Ek hom na Babilonië, ’n ver en vreemde land, wegvoer. Hy sal nie die vreemde land kan sien nie omdat sy oë uitgesteek sal wees, en hy sal in daardie vreemde land doodgaan.

14. “Ek sal ook sy helpers en die mense wat hom bedien en die wagte wat hom oppas, saam met hom laat wegneem na die ver en vreemde land. Hulle sal in die oorloë doodgaan.

15. En wanneer hulle in ’n ver en vreemde land sit, sal hulle weet en erken dat Ek die Here is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 12