Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 7:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Net toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel afgekom wat die verskillende offers verteer het. Daarna het die Here se heerlikheid die hele tempel gevul.

2. Die priesters kon glad nie in die tempel ingaan nie omdat die heerlikheid van die Here dit te vol gemaak het.

3. Toe al die Israeliete sien hoe die vuur afgekom en die Here se heerlikheid die tempel gevul het, het hulle met die gesig na die grond toe neergebuig en die Here vereer en geprys. Hulle het gesê: “Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

4. Daarna het die koning en al die Israeliete begin om diere te slag as ’n offer vir die Here.

5. Koning Salomo het 22 000 beeste en 120 000 skape geslag. Só het die koning en die volk die tempel van God ingewy.

6. Die priesters het op hulle plekke gaan staan. Die Leviete ook, en hulle het gesing: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” Hulle sang is begelei met die musiek van die instrumente wat Dawid laat maak het om die Here te prys. Toe het die priesters op die trompette geblaas, terwyl al die Israeliete opgestaan het.

7. Salomo het daarna die middelste deel van die voorhof, wat reg voor die tempel geleë was, aan die Here gewy. Dit is waar hulle toe die brandoffers en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand het. Dit was nodig omdat al die offers wat hulle wou verbrand, nie op die bronsaltaar kon pas wat Salomo laat bou het nie.

8. Salomo en al die Israeliete het toe vir die volgende sewe dae lank feesgevier. Dit was ’n reusesaamtrek. Mense het daarheen gestroom van Lebo-Hamat af tot by die Egiptespruit, vanuit die hele land.

9. Vir sewe dae na die inwyding van die altaar het hulle fees gehou. Op die agtste dag het hulle dit afgesluit en daarna vir nog sewe dae die huttefees gevier.

10. Na al die feeste, op die 23ste dag van die sewende maand, het Salomo almal huis toe laat gaan. Almal was bly en gelukkig omdat die Here so goed vir Dawid, Salomo en sy volk Israel was.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 7