Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:15-26 Die Boodskap (DB)

15. Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is. Aanvaar asseblief die geskenk wat ek saamgebring het.”

16. Elisa het volstrek geweier. Hy het gesê: “Net so seker as wat ek is dat die Here wat ek dien, lewe, so seker is ek dat ek nooit die geskenk van jou sal aanvaar nie!” Hoe Naäman ook al by hom gepleit het, Elisa het die geskenk bly weier.

17. Toe sê Naäman vir hom: “As u dan niks wil hê nie, mag ek maar iets vra? Kan ek ’n vraggie grond hiervandaan saamneem? Ek wil van nou af nie meer vir enige ander gode diere offer nie. Ek wil net die Here só vereer.

18. Maar daar is ’n probleem. Ek moet soms saam met my koning na die tempel van Rimmon, die god van die Arameërs, toe gaan. Wanneer die koning wil kniel, moet ek saam met hom kniel. Dit sal dan kan lyk of ek ook vir Rimmon vereer. Mag die Here my dit vergewe!”

19. Elisa het geantwoord: “Gaan maar sonder bekommernis,” en Naäman het huis toe gegaan.

20. Elisa se assistent, Gehasi, het vir homself gesê: “Ek kan nie glo dat Elisa hierdie Arameër laat gaan het sonder om die geskenk te vat wat hy saamgebring het nie. Ek gaan beslis agter hom aanhardloop om ten minste iets by hom te kry!”

21. Gehasi is toe haastig agter Naäman aan.Toe Naäman hom sien, het hy van sy wa afgeklim en na hom toe gegaan. Hy het vir Gehasi gevra: “Is alles reg?”

22. “Ja, dankie,” het hy geantwoord, “maar Elisa het my gou met ’n versoek gestuur. Hy sê daar het nou pas twee jong profete uit die bergland van Efraim by hom aangekom. Sal u asseblief vir hulle 34 kilogram silwer en twee stelle klere gee?”

23. Naäman het geantwoord: “Natuurlik ja, maar ek verdubbel dit. Vat 68 kilogram silwer vir hulle saam.” Hy het dadelik 68 kilogram silwer in twee geldsakke gesit. Hy het die geld en twee stelle klere vir sy assistente gegee om dit vir Gehasi huis toe te dra.

24. Toe hulle by die heuwel kom, het Gehasi die goed by hulle gevat en hulle teruggestuur. Hy het die geskenke in die huis gaan wegsteek.

25. Toe hy weer by Elisa kom, het Elisa vir hom gevra: “Waar was jy, Gehasi?”“Ek was nêrens heen nie,” het hy geantwoord.

26. Maar Elisa het gesê: “Gehasi, ek was in die gees dáár toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet. Dis tog nie nou die tyd om geld en klere in die hande te kry, of om olyfboorde, wingerde, skape en beeste of slawe en slavinne bymekaar te maak nie!

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5