Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:7-21 Die Boodskap (DB)

7. Hy het die huise op die tempelterrein laat afbreek wat aan die heilige prostitute behoort het. Dit is waar die vroue materiaal geweef het wat vir die verering van Asjera gebruik is.

8. Hy het al die priesters wat in die stede van Juda vir die Here gewerk het, na Jerusalem toe laat kom. Hy het die heilige plekke waar hulle gewerk het, van Geba af tot by Berseba, tot niet gemaak, asook die heilige plekke by Josua se poort. (Josua was die offisier in bevel van Jerusalem, en sy plek was net links van die stadspoort.)

9. Hierdie priesters mag nie op die altaar van die Here in Jerusalem gewerk het nie. Hulle kon egter wel saam met die ander priesters van die ongesuurde brood eet wat net vir priesters bedoel was.

10. Hy het die offerplek in die Ben-Hinnom-dal, waar hulle kinders vir Molek geoffer het, ook laat vernietig, sodat niemand dit ooit weer vir dié doel sou kon gebruik nie.

11. Hy het die perdebeelde vernietig wat by die ingang van die tempel gestaan het. Dit was naby die kamer van Netan-Melek wat by die paleis gewerk het. Vroeëre konings van Juda het beelde gegee om die son te vereer. Hy het ook die waens van die son verbrand.

12. Hy het ook verskeie altare vernietig. Dit sluit in die altare op die dak van Agas se kamer wat die konings van Juda gebou het en die altare wat Manasse in die twee portale van die tempel gebou het. Hy het die altare laat afbreek waar hulle gestaan het en die rommel in die Kidronspruit laat weggooi.

13. Hy het die heilige plekke oos van Jerusalem, suid van die Olyfberg, ook laat vernietig. Dit is die heiligdomme wat Salomo, die koning van Israel, nog gebou het. Hulle was bedoel vir:Astarte, die mense van Sidon se veragtelike godin;Kemos, die mense van Moab se veragtelike god;Milkom, die mense van Ammon se afstootlike god.•

14. Hy het die klippilare gebreek en die Asjerastompe afgekap en die plek met mensbene bestrooi.

15. Josia het ook elders in die land teen heiligdomme opgetree. By Bet-El het hy die heilige plek en altaar afgebreek wat Jerobeam I, seun van Nebat, daar gebou het en waar hy die mense van Israel verkeerd laat doen het. Hy het ook die Asjerastomp verbrand.

16. Toe hy omdraai, sien Josia die grafte teen die berg. Hy het die bene uit die grafte laat haal en dit op die altaar verbrand. Hierna kon die altaar nooit weer as ’n heilige plek gebruik word nie. Dit was net soos die profeet uit Juda destyds die Here se oordeel oor Bet-El aangekondig het toe Jerobeam tydens die feestyd by die altaar gestaan het.

17. Daarna het Josia gevra: “Wie se grafsteen is daardie een wat ek daar sien?”Die mense van Bet-El het vir hom gesê: “Dit is die graf van die profeet uit Juda, wat hierdie dinge wat u nou met die altaar gedoen het, hier kom voorspel het.”

18. Josia het toe beveel: “Laat dié graf dan met rus en moenie die bene uithaal nie.” So het dit gebeur dat hulle die bene van die profeet uit Juda en dié van die ou profeet uit Samaria nie versteur het nie.

19. Josia het ook die tempels vernietig wat die konings van Israel in Samaria gebou het. Hy het dit op dieselfde manier behandel as die heilige plek by Bet-El.

20. Hy het die priesters wat by die heilige plekke gewerk het op die altare laat doodmaak en mensbene op die altare verbrand om hulle te ontwy.Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan.

21. Josia het al sy mense beveel: “Julle moet die paasfees ter ere van die Here julle God vier, soos dit in die wetboek beskryf word.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23