Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:12-25 Die Boodskap (DB)

12. Jehu is toe weg na Samaria toe. Op pad, by Bet-Eked van die skaapwagters, het hy ’n groep mense raakgeloop.

13. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, van Jerusalem af,” het hulle geantwoord. “Ons is op pad om te gaan kyk hoe dit met die prinse en die koning se ma gaan.”

14. “Vang hulle lewendig!” het Jehu vir sy manne geskree. Hulle het toe al 42 prinse van Juda gevang en hulle by ’n put daar naby gaan doodmaak.

15. Op pad daarvandaan het Jehu vir Jonadab, die seun van Rekab, raakgeloop wat na hom toe gekom het. Nadat hulle mekaar gegroet het, het Jehu vir Jonadab gevra: “Is jy so lojaal aan my soos ek aan jou?”“Ja, ek is,” het Jonadab geantwoord.“Nou gee my dan jou hand!” het Jehu gesê en sy hand uitgesteek en vir Jonadab op sy strydwa gehelp.

16. Jehu sê toe vir hom: “Kom nou saam met my. Kom kyk hoe ywerig kan ek vir die Here werk!” Jonadab het saam met Jehu Samaria toe gery.

17. In Samaria het Jehu almal doodgemaak wat nog van Agab se familie oor was. Dit was soos wat die Here deur Elia gesê het dit sou gebeur.

18. Jehu het ’n baie groot vergadering belê en vir die mense gesê: “As julle dink dat Agab baie lief was vir Baäl, moet julle sien wat ék alles gaan doen om Baäl te vereer!

19. Roep al die profete van Baäl bymekaar, ook al die mense wat lief is vir hom en die priesters wat in sy tempel werk. Almal moet daar wees, want ek wil ’n baie groot fees ter ere van Baäl hou. Wie nie kom nie, sal ek laat doodmaak.” Jehu se plan was egter om al die Baälaanbidders dood te maak.

20. Jehu het beveel: “Roep ’n feesdag vir Baäl uit!”Hulle het dit gedoen

21. en Jehu het boodskappers reg deur die land gestuur om almal bymekaar te maak. Baäl se mense het in groot getalle opgedaag en die Baältempel van hoek tot kant volgemaak.

22. Jehu het vir die toesighouer oor die klerekamer gesê: “Jy moet sorg dat elke feesganger feesklere dra.” Die klere is toe aan hulle uitgedeel.

23. Jehu en Jonadab het saam met die Baälvereerders in die tempel ingegaan en vir hulle gesê: “Maak seker dat hier nie mense onder ons is wat eintlik die Here dien nie. Hulle is glad nie deel van hierdie fees nie.”

24. Almal was in die tempel saam om vir Baäl diere te slag en hom met offers te vereer.Jehu het egter gereël dat daar buite die tempel 80 soldate gereed staan. Hy het hulle met hulle lewe gedreig en gesê: “Die een van julle wat ’n enkele een van hierdie feesgangers lewendig laat wegkom, sal met sy lewe boet!”

25. Toe Jehu klaar was met die offer, het hy vir die wagte en offisiere gesê: “Gaan in en maak almal dood. Niemand mag oorbly nie!”Die soldate is toe die tempel in en het die mense met swaarde doodgesteek en die lyke uitgegooi. Hulle het tot in die binneste heiligdom van die tempel ingegaan

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10