Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 7:7-22 Die Boodskap (DB)

7. “Is dit dan ’n sonde om die wet te hou?” hoor ek een van julle vra. Nee, glad nie. Die wet sê juis vir ons wat sonde is. Ek sou mos nie geweet het dat ek nie mag begeer nie as die wet nie gesê het nie: “Jy mag nie begeer nie.”

8. Tog help hierdie kennis nie veel nie, want die wet maak dat die sonde ’n vastrapplek in my lewe kry. In plaas daarvan dat die wet my keer om te sondig, maak dit my net bewus van my slegte begeertes - en laat my ook alles begeer wat deur die wet verbied word. As die wet nie daar was nie, sou sonde glad nie ’n probleem gewees het nie.

9. Voordat daar ’n wet was, het ek nie mooi geweet wat reg en wat verkeerd is nie.

10. Maar vandat God se wet op skrif gestel is, is daar geen verskoning meer nie. Toe het sondes skielik name gekry. Nou weet ek baie goed wat sonde is. Die wet het my egter nie by die ware lewe uitgebring nie.

11. Inteendeel, dit het my net nog dieper in die doderyk ingesleep, want die sonde het sy aaklige kloue ook in die wet ingeslaan. Daarom kon die wet nie keer dat ek sonde doen nie. Dit het my eintlik ’n rat voor die oë gedraai. Want kort voor lank was ek in die doderyk, met die wet en al.

12. Natuurlik is die wet heilig. Dit kom immers van God af. En natuurlik is alles wat in die wet geskryf staan ook heilig en goed. Dit sê vir ons wat God van ons vra.

13. Hoe is dit dan moontlik dat iets wat so goed is vir my die dood bring? Is dit die wet se skuld dat ek in die mag van die dood is? Natuurlik nie. Dit is die sonde se skuld. Sonde het ook die goeie wet in sy slegte kloue beetgekry. Daarom sit ek nou in hierdie gemors. Die wet maak net van my ’n nog groter sondaar omdat ek dit nie kan gehoorsaam nie. Die wet sê vir my wat sonde is, maar keer my glad nie om dit te doen nie. Hoe tragies dat juis die wet moet wys hoe groot die mag van die sonde regtig is.

14. Die wet kom van God af. Maar ek wat dit moet probeer gehoorsaam, is ’n sondaar. Ek is soos ’n slaaf aan die verskriklike mag van die sonde uitverkoop.

15. Ek kan nie verklaar hoekom ek sonde doen nie. Want ek wil dit nie doen nie. Tog doen ek dinge wat ek met my hele wese haat. Juis om hierdie rede is die wet nodig en goed.

16. Dit wys immers vir my dat die lelike dinge wat ek doen, verkeerd is. Dis teen God se wil.

17. Ek is nie meer in beheer van my eie lewe nie. Sonde speel oor my lewe baas.

18. Ek weet alte goed dat ek ’n sondaar is. Nêrens in my liggaam skuil daar ’n enkele stukkie goed nie. Want ek wil bitter graag doen wat reg is. Maar ek kry dit eenvoudig nie reg nie.

19. Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek.

20. Iets groots is in my lewe verkeerd. Dis nie meer ek wat in beheer van my eie lewe staan nie. Sonde is my baas.

21. My lewe is nou so voorspelbaar soos kan kom. Elke keer as ek besluit om goed te doen, pootjie die sonde my.

22. In my binneste is ek regtig bly dat ek God se wet ken. Maar wanneer ek die wet moet doen, wil die res van my liggaam nie saamwerk nie.

Lees volledige hoofstuk Romeine 7