Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:15-34 Die Boodskap (DB)

15. Jesus antwoord: “Wel, omdat nuwe dinge in hierdie wêreld aan die gebeur is. Op ’n troue staan mense mos nie en huil nie. Allesbehalwe! Terwyl die troue aan die gang is, hou almal mos fees. As die fees eers verby en die bruidspaar weg is, kan hulle weer met hulle gewone lewe aangaan en huil as hulle wil.

16. “Laat Ek dit so verduidelik: as iemand ’n gat in ’n ou rok regmaak, lap sy dit nie met nuwe materiaal wat kwaai sal krimp nie. Met die eerste was sal daardie nuwe lap mos krimp en ’n yslike gat in die ou rok skeur.

17. “Nog ’n voorbeeld: julle weet goed dat die leer van sakke waarin wyn ’n lang ruk gehou word, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sagte sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Dan loop al julle wyn uit. Nee, nuwe wyn gooi ’n mens in sterk, nuwe sakke. Die sakke sal dan nie skeur nie en jou wyn sal ook nie uitloop nie.“Dus, as God se nuwe wêreld hier is, word nuwe optrede van mense verwag.”

18. ’n Vername leier uit daardie omgewing kom val toe voor Jesus neer: “Kom, asseblief! My dogter is nou net dood! Kom vat net aan haar en ek weet sy sal weer begin leef. Asseblief!” smeek hy.

19. Sonder om te huiwer staan Jesus en sy dissipels op om saam met hom te gaan.

20. Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Niks wou help nie en

21. sy het geredeneer: “As ek net aan Jesus kan raak, weet ek ek sal gesond word.” Toe Jesus dus opstaan, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom.

22. Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond.

23. Daarna is Jesus-hulle saam met die vername man. By sy huis kry hulle mense wat vreeslik huil en rou. Dit het ’n groot lawaai afgegee. Jesus skreeu toe bo die geraas uit:

24. “Gaan asseblief uit die huis uit. Die dogtertjie is nie regtig dood nie. Sy slaap net.” Toe die mense Hom dit hoor sê, was daar ’n beroering. Hulle kon hulle lag nie hou nie en het Hom begin koggel.

25. Eers toe almal uit was, het Jesus by die huis ingegaan. Hy het die meisie se hand gevat en dit styf vasgehou. Die meisie het haar oë oopgemaak en opgestaan.

26. Die nuus van wat daar gebeur het, het soos ’n veldbrand deur die hele omgewing versprei.

27. Net toe Jesus by die huis uitkom, skreeu twee blindes hard vir Hom: “Seun van koning Dawid, help ons, asseblief! Ons het u hulp bitter nodig!”

28. Jesus vra hulle: “Is julle heeltemal seker dat Ek julle kan help?” Vinnig antwoord hulle: “Natuurlik, Here.”

29. Jesus vat toe aan hulle oë en sê: “Mag dít gebeur waarop julle so hoop.” En dit het gebeur -

30. hulle kon weer sien. Jesus vra hulle toe baie mooi, maar tog ernstig: “Asseblief, moenie dat iemand agterkom wat hier gebeur het nie.”

31. Maar hulle was kwalik by die deur uit of hulle het daaroor begin praat. Hulle kon dit net nie vir hulleself hou nie. Almal het later daarvan geweet.

32. Net daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van ’n bose gees was. Die bose gees het gekeer dat hy ’n woord kon uitkry. Jesus het die bose gees verwilder en

33. dadelik het die man begin praat. Die mense was skoon uit die veld geslaan. “Nog nooit het ons so iets in Israel gesien nie!” het hulle vir mekaar gesê.

34. “Nee wat,” het die Fariseërs verskoning probeer soek, “hierdie man werk vir die duiwel. Daarom luister die bose geeste so vir hom!”

Lees volledige hoofstuk Matteus 9