Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 19:13-30 Die Boodskap (DB)

13. Kort daarna het ’n groep mense hulle kindertjies na Jesus toe gebring met die hoop dat Hy sy hande op hulle sou lê en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle verwilder. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus onnodig moes lastig val nie.

14. Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik vir sy dissipels: “Wag! Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies afhanklik is van hulle hemelse Vader se sorg.”

15. Jesus het toe sy hande op hulle geplaas en God se genade oor hulle afgebid. Daarna het Hy vertrek.

16. Op ’n dag het ’n jongman vir Jesus kom sê: “Goeie Leermeester, U praat so baie oor God se nuwe wêreld. Ek wil ook bitter graag daar ’n plek kry. Sê my, watter goeie dinge moet ek doen sodat ek vir altyd daar kan gaan bly?”

17. “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, laat Ek jou vraag beantwoord. As jy vir altyd in God se nuwe wêreld wil bly, moet jy sy voorskrifte gehoorsaam. So eenvoudig is dit.”

18. “Watter voorskrifte?” het die man gevra.“Die volgende,” antwoord Jesus. “Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie leuens vertel nie;

19. jy moet respek vir jou pa en ma hê; en jy moet net soveel vir jou medemens omgee as vir jouself.”

20. “Ag wat, ek doen daardie dinge al van kleins af,” sê die jongman toe. “Miskien is daar nog so ’n klein ietsie ekstra wat ek dalk kan doen, net om honderd persent seker te maak dat ek by God uitkom. Sê my, asseblief.”

21. Hierop sê Jesus: “Nou goed. As jy God se voorskrifte een honderd persent wil hou, moet jy al jou besittings verkoop. Gee dan al daardie geld vir die armes. Los alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit alles doen, het jy vir jouself ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.”

22. Jesus se woorde het die jongman baie omgekrap. Dit was die laaste woorde wat hy wou hoor, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om sy besittings aan sy familie en aan die armes uit te deel nie. Die jongman het toe dikmond omgedraai en weggestap.

23. Terwyl Jesus die man agterna kyk, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se wêreld te kry nie.

24. Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om in God se nuwe wêreld te kom.”

25. Jesus se woorde het die dissipels se voete onder hulle uitgeslaan. Verbysterd vra hulle Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word? Hoe sal iemand ooit ’n plek in God se wêreld kry?”

26. Jesus het hulle stip aangekyk. Toe sê Hy vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. As julle op Hom vertrou, sal Hy sorg dat julle wel in sy wêreld inkom.”

27. Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Nou moet U reguit vir ons sê wat ons dissipels se kans is om daar in te kom. Kyk, ons het al ons besittings weggegee en u volgelinge geword.”

28. “Ek het baie goeie nuus vir julle,” antwoord Jesus. “Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal Ek as die Seun van die mens daar as Koning regeer. Ek self sal sorg dat julle die heel beste plekke daar kry. Julle sal soos konings op twaalf trone gaan sit en oor almal in Israel oordeel.

29. “Maar Ek het ook goeie nuus vir al die ander mense wat baie dinge moes opoffer om my volgelinge te word. Party moes ’n huis of ’n familielid of ’n goeie werk prysgee. Hulle sal 100 maal daarvoor vergoed word, sommer nou al. Hulle sal elke dag God se goedheid ervaar. En hulle sal definitief ook ’n plek in my Vader se nuwe wêreld kry.

30. “Mense wat nou hier op aarde baie belangrik is, sal glad nie ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat egter nou agter in die ry van die lewe staan omdat hulle My volg, sal daar belangrik wees.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 19