Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12:21-38 Die Boodskap (DB)

21. Mense van oral af sal al hulle hoop op Hom rig!”

22. Toe bring hulle ’n man na Hom toe wat so in die vernietigende mag van die duiwel was dat hy nie eens kon sien of praat nie. Die duiwel was egter nie teen Jesus opgewasse nie. Jesus het die man gesond gemaak. Daarna kon hy weer normaal praat en sien wat om hom aangaan.

23. Dit het die omstanders baie beïndruk. In verwondering het hulle vir mekaar gevra: “Is Jesus nie dalk die Een wat weer soos koning Dawid oor ons gaan regeer nie?”

24. Die Fariseërs was glad nie gelukkig toe hulle die mense dit hoor sê nie. “Nee wat, moenie julle laat kul nie,” het hulle probeer keer. “Hierdie man is baie goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste so na hom.”

25. Hierdie skynheiliges kon egter niks vir Jesus wegsteek nie. Hy het geweet wat hulle dink. Daarom was sy teenargument gereed: “’n Weermag met soldate wat oor elke liewe ding onder mekaar baklei, sal nooit ’n oorlog kan wen nie. ’n Gesin waarin elkeen net heeltyd die ander wil teengaan, sal uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie.

26. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan alles vir hom eindig? Hy sal dit mos nooit doen nie!“Dit is nie al nie. Sê My, julle dryf ook mos demone uit.

27. As julle sê Ek kan dit net doen omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wie se vriende maak dit julle? Toe, werk die antwoord uit. As julle die regte antwoord gekry het, sal julle ook weet waarom Ek demone kan verjaag.

28. Julle sal agterkom dat Ek die demone deur die hulp en krag van God se Gees verwilder. Dan sal julle ook moet toegee: waar Ek hier tussen julle werk, is God ook aan die werk. Hy heers tog oor alles en almal.

29. “Kom ons gebruik ’n beeld. Hoe op aarde dink julle sal dit moontlik wees om sommer by die huis van ’n sterk, gesonde man in te stap en voor hom al sy goed te steel? Hy sal jou mos keer, tensy jy hom eers oorrompel en stewig vasbind. “Wat sê hierdie argumente vir julle? Dít, dat julle kan aflei aan wie se kant Ek staan.

30. Nou staan julle voor die keuse: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan die kant van my vyand.

31. “Daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie sal vergewe nie. Maar daar is een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense sê dat wat Hy doen van die duiwel af kom en so die Heilige Gees met die duiwel vergelyk.

32. “Julle kan liewer nog hierdie dinge van My sê, maar moenie dit van die Heilige Gees sê nie. Dan is julle regtig in groot moeilikheid by God. God sal julle dit nooit vergewe nie.

33. “Julle weet mos dat sommige bome lekker eetbare vrugte dra, terwyl ander bome se vrugte nutteloos is omdat dit ’n hopelose boom is. ’n Mens weet of ’n boom goed of sleg is deur na sy vrugte te kyk. Net so is dit met mense. Moet julle dus nie dom hou nie. Eetbare vrugte kom nie van nuttelose bome af nie.

34. “Julle spul valse mense. Julle is vrot van binne, maar nogtans hou julle aan met al julle vroom praatjies. Maar julle kan nie wegsteek wat binne-in julle aangaan nie. Uit wat julle sê, verraai julle julleself. Soos die spreekwoord sê: ‘Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.’

35. As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is.

36. Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik.

37. Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie.”

38. Van die geleerde Jode antwoord Jesus toe: “Ons sien jy leer die mense so. Ons wil egter nie net ’n gepraat hoor nie. Doen ’n bietjie vir ons iets dat ons kan sien of jy regtig aan God se kant is.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 12