Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:39-51 Die Boodskap (DB)

39. Ek dink hy is in die mag van ’n bose gees. Hy kry sulke snaakse aanvalle. Dan begin hy skree en sy hele liggaam gaan aan die ruk. Skuim loop ook by sy mond uit. Die aanvalle hou omtrent nooit op nie. My arme kind is al behoorlik verniel.

40. Ek het hom na u dissipels toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie.”

41. Jesus het dadelik na sy dissipels toe gedraai en vir hulle gesê: “Julle klomp ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle regtig glo? My geduld met julle is vinnig besig om op te raak.”Jesus sê toe vir die man: “Bring jou seun hier.”

42. Toe die seun by Jesus kom, het die bose mag hom weer beetgepak. Sy hele liggaam het inmekaargetrek en hy het wild begin ruk. Jesus het dadelik die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Jesus het die seun toe gesond aan sy dankbare pa teruggegee.

43. Almal wat gesien het wat gebeur, was verstom. “God is regtig groot,” het hulle vir mekaar gesê.

44. Tussen al die opgewondenheid deur het Jesus vir sy dissipels gesê: “Onthou baie goed wat vandag hier gebeur het, want dit gaan nie altyd so maklik wees nie. Binnekort gaan die mense My vang en My soos ’n misdadiger behandel.”

45. Die dissipels het egter nie verstaan wat Jesus vir hulle gesê het nie. Hulle was ook te bang om te vra wat Hy bedoel. Maar dit was in elk geval nog nie die regte tyd vir hulle om te weet wat alles op Hom wag nie.

46. Op ’n dag het Jesus se volgelinge aan die stry geraak oor wie van hulle sy belangrikste volgeling is.

47. Jesus het gehoor wat aan die gang was. Hy het toe ’n klein kindjie wat daar rondgespeel het, nader geroep.

48. Toe sê Hy vir sy volgelinge: “As ander mense een van hierdie kindertjies soos ’n goeie vriend behandel, is hulle sommer my vriende ook. Elke goeie ding wat mense aan een van my kinders doen, doen hulle ook aan My. En wanneer hulle My soos hulle vriend behandel, dan is hulle my Vader se vriende ook. Hy het My mos na julle almal toe gestuur. “Elkeen van julle wat groot respek vir God en vir ander mense het en wat nie baie van julleself dink nie, is regtig baie belangrik in God se oë.”

49. Terwyl Jesus nog besig was om te praat sê Johannes, een van sy dissipels, vir Hom: “Here, party mense wat ons nie eens ken nie dryf deesdae al duiwels in u Naam uit. Ons het nou die dag op so iemand afgekom wat besig was om ’n duiwel in u Naam uit te dryf. Ons het hom dadelik verbied om dit te doen. Want hy is nie ’n volgeling van U nie.”

50. “Moenie hom keer om dit te doen nie,” het Jesus dadelik geantwoord. “Want mense wat sulke dinge doen, is tog nie julle vyande nie. Hulle staan ten minste nie aan die duiwel se kant nie.”

51. Jesus se taak om God se nuwe wêreld bekend te maak het nou stadig maar seker einde se kant toe begin staan. Hy moes binnekort na sy hemelse woonplek toe terugkeer. Maar eers moes Hy na Jerusalem toe gaan.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9