hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 14 Die Boodskap (DB)

Jesus maak ’n sieke op die sabbat gesond

1. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus by een van die leiers van die Fariseërs gaan eet. Oudergewoonte het hulle Hom fyn dopgehou, want teen daardie tyd het hulle baie goed geweet dat Jesus Hom nie veel aan hulle reëls en wette steur nie.

2. Intussen het Jesus gesien dat daar ’n man onder hulle was met ’n liggaamlike afskeiding wat hom onrein maak.

3. Toe draai Hy na die ander godsdienstige leiers toe wat ook daar was vir die ete en vra hulle: “Sê My, mag ’n mens iemand wat siek is op die sabbat gesond maak, of nie? Wat sê julle?”

4. Maar niemand het ’n woord gesê nie. Hulle het net doodstil bly sit. Toe stap Jesus na die siek man toe, maak hom gesond en stuur hom terug na sy huis toe.

5. Jesus vra toe vir die godsdienstige leiers: “Wat sal julle doen as een van julle kinders of een van julle diere op die sabbatdag in ’n diep sloot vol water val? Sal julle hulle nie dadelik uithaal nie?”

6. Die godsdienstige leiers was nou in ’n hoek. Hulle het geweet as hulle ja sê, sou Jesus vir hulle sê dat dit presies was wat Hy nou vir die siek man gedoen het. Daarom het hulle stilgebly.

’n Verhaal van mense wat altyd

7. ’n Rukkie later, toe die gasheer vir die gaste sê om te kom aansit vir ete, merk Jesus op hoe almal skarrel om die beste plekke aan tafel te kry.

8. Toe sê Hy vir hulle: “Moenie altyd hardloop vir die beste plek as jy na ’n belangrike geleentheid toe uitgenooi word nie. Netnou gaan sit jy dalk op ’n plek wat vir ’n eregas bespreek is.

9. Dink net hoe skaam jy dan sal kry as die gasheer daar voor almal vir jou kom sê: ‘Verskoon tog, maar hierdie plekke is eintlik vir die eregaste bedoel. Soek vir jou ’n ander plek.’ Dan moet jy met ’n rooi gesig opstaan en op die slegste plek gaan sit.

10. “Gaan sit liewer daar agter tussen die ander mense as jy na ’n belangrike funksie toe genooi word. Kies doelbewus die swakste plek uit. Wie weet, dalk kom die gasheer na jou toe en sê: ‘Ag nee, vir wat sit jy hier agter? Daar voor is ’n baie beter plek. Kom sit daar by my.’ Dan sal almal wat saam met jou aan tafel sit, sê: ‘Sjoe, dat so ’n belangrike persoon so nederig is om hier tussen ons te sit!’

11. Onthou: nederige mense word op die ou end met eer bekroon en belangrike mense word verneder.”

Goeie raad vir die gasheer

12. Toe draai Jesus na die gasheer toe en sê vir hom: “As jy weer ’n groot ete of ’n fees hou, moet dan nie hierdie spul weer uitnooi nie. Haal al jou vriende en al jou familielede en die vernames se name van jou gastelys af. Moet ook nie daardie ryk bure van jou uitnooi nie. Dan is hulle almal weer onder die verpligting om jou vir ’n ete terug uit te nooi. En so gaan dit dan heeltyd aan.

13. Nee, as jy weer ’n slag ’n partytjie hou, moet die volgende mense op jou uitnodigingslys wees: almal wat arm is en niks het om te eet nie, en almal wat siek is en swaarkry, veral diegene wat hulle ledemate verloor het of wat kreupel en blind is.

14. “As jy sulke mense uitnooi, is jy ’n baie gelukkige mens. Hulle het niks om vir jou mee dankie te sê nie. Maar dit maak nie saak nie, want God sien raak wat jy doen. En Hy onthou dit. Op die laaste dag wanneer al sy kinders daar voor Hom bymekaar is, wag daar ’n groot geskenk vir jou van God self.”

Die verhaal van die feesmaal en die genooides

15. Een van die gaste wat saam met Jesus aan tafel was, sê toe: “Sjoe, wat ’n voorreg moet dit nie wees om eendag daar in God se nuwe wêreld ’n plek te kan kry nie!”

16. Jesus draai na hom toe en sê vir hom: “Weet jy, eendag het ’n ryk man ’n groot feesmaal gehou en baie mense uitgenooi. Omdat daar baie voorbereidings was, het hy met die gaste afgespreek dat hy hulle sou laat roep sodra alles gereed was. So gesê, so gedaan.

17. Later, toe die kos reg was, stuur die man een van sy helpers om al die genooides te laat weet: ‘Julle kan nou maar kom, die tafels staan gelaai met die heerlikste kos. Laat die fees begin.’

18. “Maar toe gebeur daar ’n snaakse ding. Al die genooides het skielik kop uitgetrek. Die een het gesê: ‘U moet my asseblief verskoon. Ek het so pas ’n stuk grond gekoop. Nou moet ek gou gaan kyk hoe dit lyk.’

19. “’n Ander een het gesê: ‘Ek het ’n klompie osse gekoop en moet gou gaan kyk hoe dit met hulle gaan.’

20. “Nog ’n ander een het gesê: ‘Ek het pas getrou. Daarom kan ek nie vandag by u ete wees nie.’

21. “Die helper het toe teruggekom en vir sy werkgewer vertel dat niemand meer kon kom nie. Die man was woedend daaroor. Nadat hy so ’n rukkie gestaan en dink het, sê hy toe vir sy helper: ‘Kom ons maak ’n ander plan. Alles staan mos gereed. So, waarom sal ons dan nie feesvier nie? Gaan nooi gou almal wat jy in die hande kan kry. Maak nie saak wie hulle is of waar hulle bly nie, gaan nooi hulle uit. Gaan haal die armes en al die siekes wat daar in die agterstrate tussen die asblikke slaap. Sê vir hulle hulle moet dadelik na my feesmaal toe kom.’

22. “Die helper is toe daar weg. Na ’n ruk kom hy met ’n groot klomp mense terug. Hy het vir sy werkgewer gaan sê: ‘Meneer, ek het gedoen wat u vir my gesê het om te doen. Hier is nou baie mense vir u feesmaal. Maar weet u, daar’s nog plek oor.’

23-24. “‘Nou ja, dan moet jy nog mense gaan soek,’ sê die huisheer. ‘Gaan keer almal voor wat met die hoofpad hier naby verbyry. Ja, en gaan ook daar na die winkelsentrum toe. Keer almal voor wat jy raakloop en smeek hulle om na my fees toe te kom. Moenie nee vir ’n antwoord vat nie. Hou aan totdat hulle ja sê. Sleep hulle saam met jou hierheen terug as dit moet. My huis moet vol word. Maar daardie ander spul wat genooi is, sal nie hulle monde aan my kos sit nie.’”

Dit kos ’n hoë prys om ’n

25. Jesus was teen daardie tyd so bekend dat ’n groot skare agter Hom aangestap het.

26. Op ’n dag het Hy vir hulle almal gesê: “Dink julle regtig dat dit so maklik is om een van my volgelinge te wees? Wel, kom Ek sê reguit vir julle, as jy meer omgee vir jou ouers of vir jou vrou of jou kinders of vir enigiemand anders, moet jy nie eens probeer om agter My aan te kom nie.

27. As jy My wil volg, moet jy alles wat vir jou baie belangrik is, laat staan. Stel dit tweede. So nie, bly dan weg!“Ek moet die belangrikste van alles in jou lewe wees. En dit is baie moeilik. Ja, dis so moeilik soos om jou eie doodsvonnis te onderteken. Om My te volg moet jy maak soos iemand wat die doodsvonnis opgelê is: jy moet jou kruis optel en agter My aanstap. As jy nie daarvoor kans sien nie, bly liewer weg.

28. “Kom Ek verduidelik dit met ’n voorbeeld: As jy ’n huis wil bou, werk jy mos voor die tyd uit of jy genoeg geld het om dit alles te kan doen, nie waar nie?

29. Anders, as jy nie jou sommetjies behoorlik gemaak het nie, is jou geld dalk te min nadat jy die fondament gegooi het. En wat gebeur dan? Dan lag almal vir jou.

30. Hulle sal sê: ‘Daar’s nou vir jou ’n deurmekaar ou wat ’n huis halfpad bou en dit dan net so laat staan!’

31. “Nog ’n voorbeeld: As ’n koning met ’n leër van 10 000 soldate besluit om te gaan oorlog maak teen ’n ander koning met ’n leër van 20 000 soldate, moet hy voor die tyd baie mooi dink of hy dit kan regkry.

32. So nie, moet hy liewer ’n afvaardiging na die ander koning toe stuur en met hom probeer onderhandel om ’n vreedsame oplossing te kry.

33. “Weet julle, so gaan dit ook met elkeen van julle wat agter My wil aankom. As julle nie bereid is om julle geld en julle besittings weg te gee aan ander mense wat swaarkry nie, kan julle nie my volgelinge wees nie.

34. “Julle wat sê dat julle my volgelinge is, is soos sout. Julle moet smaak gee aan hierdie smaaklose wêreld. Maar wat help dit as julle self smaakloos is?

35. Dan beteken julle niks meer vir My nie. Dan moet julle weggegooi word, presies net soos ’n mens maak met sout wat sy smaak verloor het. Julle moet mooi luister na wat Ek vir julle sê, en dit ook gaan doen.”