hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 3 Die Boodskap (DB)

Jesus se padmaker: Johannes die Doper

1. In die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius het die volgende persone oor Palestina regeer: Pontius Pilatus: hy was die goewerneur van Judea. Herodes Antipas: hy was die heerser oor Galilea. Filippus, die broer van Herodes: hy was die heerser oor Iturea en Tragonitis. Lisanias: hy het oor Abilene regeer.

2. In daardie tyd, toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het God vir Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gaan roep om met sy werk te begin.

3. Johannes het toe in die gebied rondom die Jordaanrivier begin preek. Hy het vir almal wat na hom toe gekom het, gesê dat hy mense doop wat nie langer in sonde wou leef nie. Hy het ook gesê dat God almal vergewe wat hulle sondige lewe die rug toekeer.

4. Johannes het presies gedoen wat die profeet Jesaja geskryf het:“Iemand roep hard in die woestyn: ‘Die Here is op pad! Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is.

5. Vul elke slaggat in die pad op. Kry elke bult en opdraande uit sy pad uit. Verwyder al die ompaaie. Sorg dat al die grondpaaie geteer is.

6. Dan sal almal God se verlossing kan sien.’”

7. ’n Groot skare het na Johannes toe gestroom om gedoop te word. Kort voor lank was dit ’n hele nuwe mode. Hy het egter dwarsdeur al die skynheiliges gesien en vir hulle gesê: “Julle klomp skynheiliges. Dink julle dat julle so maklik sal wegkom van God se oordeel?

8. Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte. Moenie julleself bluf deur te sê: ‘Abraham is ons pa’ nie. Dit tel glad nie by God nie. As dit vir Hom saak gemaak het, kon Hy die klippe hier om julle in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het.

9. “God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met ’n groot byl in sy hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die verskriklike vuur van die hel gooi.”

10. Die skare het toe benoud vir Johannes gevra: “Sê asseblief vir ons wat ons moet doen om in die regte verhouding met God te leef.”

11. Johannes sê toe: “As julle twee stelle klere het, gee dan een vir iemand wat niks het om aan te trek nie. Doen dieselfde met julle kos. Deel julle kos met mense wat niks het om te eet nie.”

12. ’n Klompie mense wat belasting ingevorder het, het ook na Johannes toe gekom om gedoop te word. Hulle vra toe vir hom: “Meneer, wat van ons? Wat moet ons doen om in die regte verhouding met God te kom?”

13. “Moenie meer belasting uit die mense wurg as wat hulle volgens die wet moet betaal nie. Wees eerlik,” was sy antwoord aan hulle.

14. ’n Groep soldate het ook ’n vraag vir Johannes gehad: “En ons? Wat moet ons doen om gered te word?”Johannes het vir hulle gesê: “Moenie julle mag misbruik nie. Moenie mense met geweld intimideer nie. En moenie mense afpers om geld uit hulle te probeer kry nie. Wees tevrede met julle betaling.”

Johannes is nie die Messias nie

15. Johannes se woorde het die mense aangegryp. Oral het mense onder mekaar begin vra: “Is hy nie dalk die Messias nie?”

16. Maar hy het gou ’n einde aan hierdie praatjies gemaak. Hy het vir die skare gesê: “Ek doop julle nou hier in die rivier met water. Maar ’n baie belangrike Man is op pad na julle toe. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om soos ’n slaaf sy skoenveters los te maak nie. Weet julle, Hy sal nie water gebruik om julle mee te doop nie. Nee, Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal ’n vuur in julle lewens aansteek wat julle lewens van binne af sal skoonmaak.

17. “Hierdie Man wat op pad is na julle toe gaan Israel van hoek tot kant skoonmaak. Hy gaan die koring van die kaf skei. Vir almal wat na Hom luister, sal Hy ’n plek gee in God se splinternuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God steur nie, sal Hy in die vuur van die hel gooi wat nooit ophou brand nie.”

18. Johannes het die mense aangespoor om te doen wat God vra. God se goeie nuus het dag na dag oor sy lippe weerklink.

19. Op ’n dag het Johannes vir Herodes, die heerser van Galilea, in die openbaar gekritiseer omdat hy sy broer Filippus se vrou, Herodias, afgevat het. Ook ’n hele rits ander sondes van Herodes is deur Johannes veroordeel. Herodes was woedend hieroor.

20. Hy het Johannes laat arresteer en hom in die tronk opgesluit.

Jesus word gedoop

21. Onder al die mense wat na Johannes toe gekom het om gedoop te word, was daar ’n baie belangrike Man: Jesus. Nadat Johannes Hom klaar gedoop het, het Jesus tot God gebid. Terwyl Hy nog besig was om te bid, het die hemel skielik oopgegaan.

22. Die Heilige Gees het soos ’n duif na Jesus toe afgekom. ’n Stem uit die hemel het ook hardop gesê: “Jy is my Seun vir wie Ek baie lief is. Oor Jou is Ek baie bly.”

Jesus se voorouers

23. Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy ongeveer 30 jaar oud. Die meeste mense het gedink Hy was Josef se seun. Josef was weer die seun van Eli,

24. en hy die seun van Mattat. Mattat was Levi se seun. Levi was Melgi se seun, en hy die seun van Jannai. Jannai was die seun van Josef,

25. en hy die seun van Mattatias. Mattatias was Amos se seun. Amos was Nahum se seun, en hy die seun van Hesli. Hesli was die seun van Naggai,

26. die seun van Mahat. Mahat was die seun van Mattatias. Hy was Semeïn se seun, en Semeïn die seun van Josek. Josek was Joda se seun.

27. Joda was Johanan se seun. Johanan was Resa se seun, en hy die seun van Serubbabel, die seun van Sealtiël. Sealtiël was die seun van Neri.

28. Neri was Melgi se seun. Melgi was Addi se seun, en hy die seun van Kosam. Kosam was Elmadam se seun. Hy was Er se seun,

29. en Er die seun van Josua. Josua was Eliëser se seun. Hy was die seun van Jorim, en Jorim die seun van Mattat. Mattat was die seun van Levi.

30. Levi was die seun van Simeon, die seun van Juda. Juda was die seun van Josef, en hy die seun van Jonam. Jonam was Eljakim se seun.

31. Eljakim was Melea se seun, en hy die seun van Menna, die seun van Mattata. Mattata was die seun van Natan, die seun van Dawid.

32. Dawid was Isai se seun. Isai was die seun van Obed, en Obed die seun van Boas. Boas was Sala se seun, en hy die seun van Nagson.

33. Hy was weer die seun van Amminadab, die seun van Admin. Admin was Arni se seun, en hy die seun van Gesron. Gesron was Peres se seun. Peres was Juda se seun,

34. en hy die seun van Jakob. Jakob was Isak se seun, en hy die seun van Abraham, die seun van Tera. Tera was die seun van Nahor,

35. en hy die seun van Serug, die seun van Rehu. Rehu was Peleg se seun. Peleg was die seun van Heber, die seun van Sala.

36. Hy was die seun van Kenan, die seun van Arpagsad, en hy die seun van Sem. Sem was Noag se seun, en hy die seun van Lameg.

37. Lameg was Metusalag se seun, en hy die seun van Henog, die seun van Jered. Jered was Mahalalel se seun, en hy die seun van Kenan,

38. die seun van Enos. Enos was die seun van Set. Set was die seun van Adam. En Adam was natuurlik die seun van God.