Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:6-23 Die Boodskap (DB)

6. Jesus antwoord toe: “Moenie vir My sê wat Ek moet doen nie. Ek weet wanneer die tyd vir My ryp is om dinge te doen. Doen julle maar wat julle wil en los My uit. Julle hoef nie bekommerd te wees oor wanneer sekere dinge met julle gaan gebeur nie.

7. Sondige mense word mos nie vir julle kwaad soos hulle vir My kwaad word nie. Ek sê mos reguit vir hulle dat hulle op die duiwel se pad is en daarvan hou hulle niks.

8. Gaan julle maar. Gaan geniet julle fees. Ek bly net hier. Wanneer die tyd ryp is, sal Ek doen wat Ek moet doen.”

9. Jesus het net daar in Galilea gebly.

10. Jesus se broers is toe weg fees toe. So stil-stil is Jesus op sy eie ook soontoe, want Hy wou nie aandag trek nie.

11. Toe die fees begin, het die Jode begin rondvra: “Waar is daardie vent?”

12. Oral onder die mense is daar oor Jesus gepraat. “Ag nee wat,” het party gesê. “Hy is sommer ’n kansvatter!”“Hoe kan julle so sê?” het ander teruggekap. “Hy is ’n goeie en eerlike mens.”

13. Niemand het dit egter gewaag om hierdie dinge baie hard te sê nie. Hulle was te bang vir die Joodse leiers.

14. Die fees was omtrent al halfpad toe Jesus by die tempel opdaag. Daar het Hy met mense oor godsdiens en God begin praat.

15. Die Jode het nie mooi geweet wat om daarvan te dink nie. “Hierdie man het tog nêrens gestudeer nie,” het hulle vir mekaar gesê. “Hoe is dit moontlik dat hy so baie weet?”

16. Jesus sê toe: “Ek het nie self hierdie dinge opgemaak nie. Wat Ek hierdie mense leer, kom direk van God af. Hy het My gestuur om dit te kom doen.

17. Die mense wat regtig ernstig is om aan God gehoorsaam te wees, sal dadelik hoor dat wat Ek sê van God af kom.

18. Iemand wat sommer net ’n klomp idees uitdink en rondvertel, doen dit mos sodat mense kan sê: ‘O, kyk hoe slim is hy,’ nie waar nie? Dit doen Ek nie. Nee, Ek wil hê dat julle eerder moet raaksien hoe groot God werklik is. Kyk na Hom en nie na My nie. Dit moet mos al genoeg wees om julle van my goeie bedoelings te oortuig, asook daarvan dat Ek die waarheid praat.

19. Het Moses nie vir julle die wet gegee nie? Dit is mos die wil van God. Maar julle steur julle nie daaraan nie. Julle breek die wet elke dag. Nou wil julle My doodmaak omdat Ek kamma die wet gebreek het toe Ek op die sabbat iemand gesond gemaak het. Verbeel jou!”

20. Dit het die mense omgekrap. “Jy is van jou sinne beroof, man!” snou hulle Hom toe. “Wie wil jou nou skielik doodmaak?”

21. Jesus het Hom nie laat afskrik nie. “Ek het een buitengewone ding ’n ruk gelede op die sabbat gedoen. En kyk na julle, julle is nog steeds hier aan die wonder of dit nou reg was of nie. Ek wil julle graag help om dit beter te verstaan.

22. Moses het gesê dat julle julle seuntjies ’n sekere aantal dae na geboorte moet besny. (Eintlik het Moses dit nie begin nie, maar sy voorouers.) Omdat dit Moses is wat dit gesê het, doen julle dit, al moet julle dit ook op die sabbat doen.

23. Nou wil Ek julle ’n vraag vra: julle sê dit is reg om op die sabbat iemand te besny. Moses het mos gesê julle moet dit doen. Sekere dinge ís dan mos belangriker as die sabbat. As dit so is, waarom raak julle dan so opgewonde as Ek nie net ’n deel van ’n mens nie, maar die hele mens op die sabbat gesond maak?

Lees volledige hoofstuk Johannes 7