Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:19-29 Die Boodskap (DB)

19. Die Jode uit Jerusalem het ’n afvaardiging priesters en Leviete wat in die tempel gewerk het na Johannes toe gestuur. Hulle moes kom uitvind wie Johannes presies was. Daar gekom, vra hulle hom: “Wie is jy?”

20. Johannes het met groot sekerheid en oortuiging gereageer. “Ek is nie die Messias nie,” het hy openlik en beslis gesê.

21. So het die ondervraging aangegaan: “Wie is jy? Is jy dalk Elia wat teruggekom het?” “Nee! Ek is nie!”“Is jy die spesiale boodskapper van God wat sou kom?”“Nee.”

22. Ten einde raad sê die afvaardiging toe maar vir hom: “Asseblief tog, sê vir ons wie jy is. Ons kan nie sonder ’n antwoord teruggaan na die mense toe wat ons gestuur het nie. As jy nou self voor hulle kon staan en vir hulle moes sê wie jy is, wat sou jy gesê het?”

23. “Ek gaan julle antwoord met die woorde van die profeet Jesaja,” sê Johannes toe. “Ek is ’n boodskapper wat in hierdie droë en onherbergsame plek uitroep: ‘Maak ’n pad gelyk en reguit vir die Here, want Hy is aan die kom.’”

24. Die ondervraers het aan die godsdienstige party van die Fariseërs behoort.

25. Hierop het hulle Johannes onder kruisverhoor geneem. “Jy sê jy is nie die Messias nie. Jy sê jy is ook nie Elia of die verwagte boodskapper van God nie. Nou waarom doop jy dan soveel mense asof jy die een of ander belangrike godsdienstige persoon is?”

26. “Ek doop met water,” sê Johannes toe, “maar daar tussen julle in die skare staan Iemand anders. Julle weet nog net nie van Hom nie.

27. Nee, Hy gaan eers ná my op die toneel verskyn. Maar Hy is so belangrik in vergelyking met my dat ek nie eens soos ’n slaaf werd is om sy skoenrieme los te maak nie.”

28. Die mense het in Betanië, oorkant die Jordaan, met Johannes gaan praat omdat hy die mense daar gedoop het.

29. Die volgende dag het dit toe gebeur. Jesus het na Johannes toe gekom. “Kyk mooi! Daar is die Offerlam van God!” het Johannes uitgeroep. “Hy gaan die mag van die sonde in die wêreld finaal breek.

Lees volledige hoofstuk Johannes 1