Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:34-48 Die Boodskap (DB)

34. “‘Ek weet van al die lyding wat my mense in Egipte moet verduur. Ek hoor hoe hulle My smeek dat Ek hulle moet bevry. Daarom het Ek besluit om hulle uit daardie land weg te vat. Jy is die man wat dit vir My moet gaan doen. Maak jou gereed! Want Ek wil hê jy moet Egipte toe gaan.’

35. “Dieselfde Moses wat vroeër deur sy eie mense verwerp is, is nou deur God self as hulle leier en redder aangewys. Dit alles het daar by die brandende doringbos begin waar hy God se stem gehoor het.

36. “Moses het die Israeliete daarna uit Egipte weggelei. In Egipte, by die Rooisee en ook in die woestyn het hy 40 jaar lank die een groot wonderwerk na die ander gedoen.

37. “Dit is hierdie selfde Moses wat op ’n dag vir die Israeliete gesê het: ‘God sal eendag ’n boodskapper net soos ek uit julle midde laat voortkom.’

38. “Dit is ook Moses wat op die berg Sinai met die engel van die Here gaan praat het.

39. Daarna het hy God se wil aan ons voorvaders in die woestyn bekendgemaak. Hy het al hierdie woorde wat lewe gee by die Here self ontvang en dit aan hulle almal gaan meedeel. Maar ons voorvaders het hulle nie daaraan gesteur nie.

40. Hulle het begin terugverlang na die tyd in Egipte en by Aäron gaan kerm: ‘Maak asseblief vir ons ’n paar gode wat ons met ons eie oë kan sien en wat voor ons kan uittrek. Hierdie Moses wat ons uit Egipte laat trek het, het verdwyn.’

41. “Hulle het toe vir hulle ’n afbeelding van ’n kalf gemaak en allerhande offers daarvoor gebring. Hulle was baie trots op hulle mooi handewerk. God was egter baie kwaad daaroor, maar Hy het hulle laat aangaan met hulle sondes.

42. Hy het toegelaat dat hulle elke nuwe god aanbid waarvan hulle te hore gekom het. Hulle het presies gedoen wat die Here later deur een van die profete gesê het:

43. ‘Dit is tog nie vir My dat julle daar in die woestyn allerhande offers gebring het nie. Nee, gedurende daardie 40 jaar was julle te besig om aanbiddingsplekke vir ander gode te bou. Afgode soos Molog en Refan was toe belangriker as Ek. Julle het allerhande mooi versiersels aan julle lywe gedra om daardie gode gelukkig te maak. Julle kon nie voorbly om neer te buig voor elke nuwe afgod wat julle in die hande gekry het nie. Ek gaan julle daaroor straf: Ek gaan julle tot anderkant Babilon as gevangenes laat wegvoer.’”

44. “Ons voorouers het die hele tyd daar in die woestyn ’n presiese weergawe van die heilige tent by hulle gehad wat God vroeër aan Moses op die berg Sinai gewys het.

45. “Hierdie heilige tent was ook by hulle toe Josua hulle nuwe leier geword het. In sy tyd het hy al die ongelowige volke uit Kanaän verdryf. Dié tent was nog steeds by hulle in die tyd van koning Dawid. “Dawid was die koning vir wie God baie lief was.

46. Hy het op ’n dag vir God gaan vra of hy nie ’n tempel as aanbiddingsplek vir die nageslag van Jakob kon bou nie.

47. Sy seun Salomo was egter die man op wie se skouers hierdie taak neergekom het. Hy het vir die Here ’n huis gebou.

48. “Maar tog weet ons dat die allerhoogste God nie in geboue bly wat mense gebou het nie. Hy het dit duidelik deur een van die profete gesê:

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7