Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 9:8-15 Die Boodskap (DB)

8. God laat julle in al sy goedheid deel. Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen en ander mense help. Ja, julle lewe kan regtig oorloop van vrygewigheid en goeie werke.

9. Hoor net wat een van die psalms hieroor sê:“Iemand wat God liefhet, klou nooit krampagtig aan sy besittings vas nie. Hy deel dit met die armes. Hy hou nooit op om goed te doen nie.”

10. God is baie goed vir ons almal. Hy sorg dat daar elke jaar goeie oeste op die lande is en dat daar altyd genoeg brood op die tafel is om te eet. Net so sal Hy ook vir julle die regte soort saad gee om te saai en sorg dat dit baie vrug dra.

11. Wat ek bedoel, is dat God sal sorg dat al die goeie dinge wat julle doen ’n reuse-oes oplewer. So sal julle en ander mense selfs nog meer van die Here se goedheid in julle lewe beleef.God sal sorg dat julle altyd meer as genoeg het om van te leef. Hy maak julle ryk genoeg om altyd vrygewig te wees. Daarom sal julle geldelike bydraes, wat ons binnekort na die gelowiges in Jerusalem neem, tot gevolg hê dat daar sommer baie dankgebede na God toe opgestuur word.

12. Weet julle, hierdie geldelike offers waarmee julle die gelowiges in Jerusalem dien, gaan nie net help om hulle armoede te verlig nie. Dit natuurlik ook, maar julle bydraes sal maak dat God regtig gedank word.

13. Wanneer die gelowiges in Jerusalem sien dat julle bereid is om hulle met julle geld te dien, sal hulle God eer omdat julle so gehoorsaam is aan Christus. Hulle sal sien julle geloof is nie net lippetaal nie. Hulle sal God loof omdat julle so ’n groot klomp geld gee aan hulle en aan ander wat swaarkry om te wys dat julle een is voor God.

14. As bewys dat hulle ook vir julle omgee, sal daardie gelowiges vir julle bid en vir God dankie sê omdat Hy so ongelooflik goed is vir julle.

15. Prys God vir sy ongelooflike groot geskenk aan ons almal!

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 9