hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 9 Die Boodskap (DB)

Geld moet dankoffers wees

1. Eintlik hoef ek glad nie aan julle te skryf oor die kollekte waarmee ons die gelowiges in Jerusalem wil dien nie.

2. Ek weet mos hoe graag julle daarby wil inskakel. Daarom het ek oral by die gelowiges in Masedonië oor julle gespog. “Die gelowiges in die provinsie Agaje is al sedert verlede jaar betrokke by hierdie projek,” het ek vir hulle almal vertel. Julle ywer het teen hierdie tyd al die ander gelowiges ook aangesteek.

3. Ek stuur nou hierdie broers na julle toe sodat my spoggery oor julle nie net ’n klomp leë woorde sal bly nie. Ek het vir hulle gesê dat julle bydraes gereed sal wees as hulle daar aankom. Sorg asseblief dat dit so is. Moenie my nou in die steek laat nie.

4. Dink net hoe skaam julle sal kry as ek later self daar by julle opdaag (saam met die afgevaardigdes van Masedonië) en ek dan moet uitvind dat julle toe nooit die nodige fondse bymekaargemaak het nie. Dan sal my vertroue in julle sommer ’n ernstige knou kry.

5. Om seker te maak dat die insameling van die kollekte daar by julle glad verloop, het ek besluit om hierdie broers solank na julle toe te stuur. Hulle sal julle kom help om julle offer vir Jerusalem betyds gereed te kry. Julle het immers al lankal belowe dat julle dit sal gee. Maar dink asseblief eers goed oor die saak na en maak julle bydraes op die regte manier bymekaar. Onthou, dit moet regtig ’n dankoffer wees, nie iets wat van julle afgepers is nie.

Hoe om op die regte manier te gee

6. Ek gaan nie aan julle voorskryf hoeveel julle moet gee nie, maar ek gee wel vir julle die volgende riglyn: ’n boer wat min plant, kry ’n klein oes, en ’n boer wat baie plant, kry ’n groot oes.

7. Gaan besluit nou self hoeveel julle wil gee. Moenie ’n klomp geld gee en dan na die tyd daaroor spyt kry nie. Moet ook nie verplig voel om iets te gee nie. Onthou wat die Bybel sê: God is lief vir mense wat hulle geld met blydskap weggee.

8. God laat julle in al sy goedheid deel. Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen en ander mense help. Ja, julle lewe kan regtig oorloop van vrygewigheid en goeie werke.

9. Hoor net wat een van die psalms hieroor sê:“Iemand wat God liefhet, klou nooit krampagtig aan sy besittings vas nie. Hy deel dit met die armes. Hy hou nooit op om goed te doen nie.”

10. God is baie goed vir ons almal. Hy sorg dat daar elke jaar goeie oeste op die lande is en dat daar altyd genoeg brood op die tafel is om te eet. Net so sal Hy ook vir julle die regte soort saad gee om te saai en sorg dat dit baie vrug dra.

11. Wat ek bedoel, is dat God sal sorg dat al die goeie dinge wat julle doen ’n reuse-oes oplewer. So sal julle en ander mense selfs nog meer van die Here se goedheid in julle lewe beleef.God sal sorg dat julle altyd meer as genoeg het om van te leef. Hy maak julle ryk genoeg om altyd vrygewig te wees. Daarom sal julle geldelike bydraes, wat ons binnekort na die gelowiges in Jerusalem neem, tot gevolg hê dat daar sommer baie dankgebede na God toe opgestuur word.

12. Weet julle, hierdie geldelike offers waarmee julle die gelowiges in Jerusalem dien, gaan nie net help om hulle armoede te verlig nie. Dit natuurlik ook, maar julle bydraes sal maak dat God regtig gedank word.

13. Wanneer die gelowiges in Jerusalem sien dat julle bereid is om hulle met julle geld te dien, sal hulle God eer omdat julle so gehoorsaam is aan Christus. Hulle sal sien julle geloof is nie net lippetaal nie. Hulle sal God loof omdat julle so ’n groot klomp geld gee aan hulle en aan ander wat swaarkry om te wys dat julle een is voor God.

14. As bewys dat hulle ook vir julle omgee, sal daardie gelowiges vir julle bid en vir God dankie sê omdat Hy so ongelooflik goed is vir julle.

15. Prys God vir sy ongelooflike groot geskenk aan ons almal!