Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 9:5-9 Die Boodskap (DB)

5. Om seker te maak dat die insameling van die kollekte daar by julle glad verloop, het ek besluit om hierdie broers solank na julle toe te stuur. Hulle sal julle kom help om julle offer vir Jerusalem betyds gereed te kry. Julle het immers al lankal belowe dat julle dit sal gee. Maar dink asseblief eers goed oor die saak na en maak julle bydraes op die regte manier bymekaar. Onthou, dit moet regtig ’n dankoffer wees, nie iets wat van julle afgepers is nie.

6. Ek gaan nie aan julle voorskryf hoeveel julle moet gee nie, maar ek gee wel vir julle die volgende riglyn: ’n boer wat min plant, kry ’n klein oes, en ’n boer wat baie plant, kry ’n groot oes.

7. Gaan besluit nou self hoeveel julle wil gee. Moenie ’n klomp geld gee en dan na die tyd daaroor spyt kry nie. Moet ook nie verplig voel om iets te gee nie. Onthou wat die Bybel sê: God is lief vir mense wat hulle geld met blydskap weggee.

8. God laat julle in al sy goedheid deel. Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen en ander mense help. Ja, julle lewe kan regtig oorloop van vrygewigheid en goeie werke.

9. Hoor net wat een van die psalms hieroor sê:“Iemand wat God liefhet, klou nooit krampagtig aan sy besittings vas nie. Hy deel dit met die armes. Hy hou nooit op om goed te doen nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 9