Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 8:5-17 Die Boodskap (DB)

5. Ek het glad nie vir die Christene in Masedonië gevra om geld vir die kollekte te gee nie. Hulle het dit uit hulle eie gedoen. Omdat hulle hulle lewe volledig aan die Here gegee het, was dit baie maklik vir hulle om hulle geld tot my beskikking te stel. So het hulle presies volgens God se wil opgetree.

6. Die Masedoniërs se toewyding het my toe laat besluit om vir Titus te vra om die insameling van die geldelike offers waarmee hy vroeër reeds begin het daar by julle te gaan voltooi.

7. Julle blink uit op so baie gebiede. Kom ek noem net ’n paar: julle geloof is baie groot. Julle is glad nie bang om oor God te praat nie. Julle het baie kennis oor sy woord. Julle is regtig toegewyd in julle geloof. Boonop blink julle ook uit in die liefde van Christus wat ek aan julle verkondig het.Kan ek dan nou die volgende versoek tot julle rig? Blink asseblief ook uit wanneer dit by hierdie geldinsameling vir die arm Christene in Judea kom.

8. Ek probeer nie aan julle voorskryf wat julle moet doen nie. Glad nie. Ek vertel julle slegs hoe toegewyd ander gemeentes aan die Here is en hoeveel hulle omgee vir ander gelowiges wat swaarkry. Dalk beweeg dit julle om net soos hulle te maak. Julle reaksie sal wys of julle liefde vir die Here en vir ander mense eg is, en of dit net lippetaal is.

9. Julle weet tog hoe ongelooflik goed ons Here Jesus Christus vir ons almal is. Al die eer en glorie in die hemel behoort aan Hom. Tog het Hy hierdie hemelse rykdom ter wille van julle opgeoffer toe Hy in julle plek aan die kruis dood is. Christus het julle wat eers brandarm was, nou skatryk gemaak. Gaan wys nou hoe dankbaar julle teenoor Hom is deur julle besittings met ander gelowiges te deel.

10. Ek wil julle gou ’n stukkie goeie raad gee. Onthou julle hoe julle ’n jaar gelede besluit het om by die geldinsameling vir Jerusalem betrokke te raak? Ek onthou nog baie goed hoe ywerig julle toe begin geld insamel het.

11. Handel hierdie geldinsameling asseblief nou af. Sit weer geld daarvoor opsy. Doen dit met dieselfde geesdrif waarmee julle verlede jaar begin het.

12. Die belangrikste van alles is dat julle julle geld met die regte gesindheid sal gee. Dan maak julle God se hart sommer baie bly.

13. Natuurlik vra God nie meer van julle as wat julle besit nie. Nee, dra net tot die fondsinsameling by uit die geld wat julle tot julle beskikking het. Julle hoef regtig nie elke sent op julle naam weg te gee nie.

14. Daar moet ewewig in die kerk wees wanneer gelowiges mekaar geldelik help. Dit moet só gedoen word: julle wat nou genoeg geld het, moet daardie Christene help wat te min geld het. Later, wanneer julle weer te min geld het, moet hulle julle kom uithelp. So kom daar ewewig.

15. Dit is presies wat die Bybel sê:“Hy wat baie besit, het nie te veel nie. Hy wat ’n bietjie besit, het nie te min nie.”

16. Ek is baie dankbaar teenoor God omdat Hy Titus so ywerig gemaak het om julle te kom help. Hy is net so ywerig soos ek self.

17. Ek het Titus vroeër aangemoedig om weer na julle toe te gaan, maar hy het sommer self besluit om na julle toe te gaan omdat hy so baie vir julle omgee.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 8