Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 7:1-9 Die Boodskap (DB)

1. My liewe broers en susters, al hierdie beloftes is vir ons bedoel. Daarom moet ons nou dadelik elke verkeerde ding laat staan waarmee ons besig is. Ons moet alle onreinheid uit ons gedagtes verban. Eerbied vir God moet ons hele lewe vul. Ons moet met alles in ons daarna streef om volmaak te wees in ons toewyding aan God. Ons moet net doen wat Hy van ons vra.

2. Julle kan my maar glo as ek sê dat ek nog nooit lelik teenoor iemand opgetree het nie. Ek het niemand uitgebuit of misbruik nie.

3. Ek beskuldig julle ook nie daarvan dat julle sulke dinge gedoen het nie. Glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat julle heeltyd in my hart en in my gedagtes is. Kyk, of ek lewe en of ek doodgaan, julle sal altyd belangrik vir my bly.

4. Daarom het ek die vrymoedigheid om so reguit met julle te praat. Julle kan my maar glo as ek sê ek is regtig trots op julle. Tussen al my swaarkry deur bring julle baie vreugde in my lewe.

5. Julle onthou mos dat ek vroeër in die brief vir julle vertel het hoe ek van Troas af na Masedonië gegaan het, want ek het gehoop om Titus daar raak te loop. Toe ek daar aankom, het ’n klomp probleme op my gewag. Van buite het geweld my in die gesig gestaar en van binne het vrees my oorval. Maar toe gebeur daar ’n wonderwerk.

6. Weet julle, ons groot God wat in staat is om mense op te tel wat in die stof lê, het my ook kom optel uit die diep put waarin ek was. Hy het my bekommernis in ’n oogwink weggevat toe Titus skielik daar opdaag.

7. Hoe bly was ek toe Titus my vertel hoe julle hom met oop arms ontvang en hoe julle hom opgebeur het! Titus het my ook vertel dat julle na my verlang. En hy het bygevoeg dat julle jammer is oor alles wat vroeër tussen ons skeefgeloop het en dat julle oor my bekommerd is. Ek kan nie vir julle sê hoe bly ek was oor dié goeie nuus nie.

8. Ek weet dat ek julle baie omgekrap het in my vorige brief. Vroeër was ek baie spyt daaroor, nou nie meer nie. Dit het op die ou end goed uitgewerk. My brief het julle wel ’n kort rukkie ontstel, maar op die regte manier. Wat ek bedoel, is dat daardie brief julle teruggebring het na God toe.

9. Julle het met al julle hartseer reguit na Hom toe gegaan. Julle het glad nie enige skade as gevolg van my brief gely nie; inteendeel. Daaroor is ek regtig baie bly.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 7