Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 5:5-18 Die Boodskap (DB)

5. ’n Weduwee wat nie iemand het om haar te help nie, het net vir God oor om te vra. Sy vertrou God heeltemal en vra dag en nag dat Hy haar asseblief moet help.

6. Daar is egter ook weduwees wat deur allerhande plesiere van die lewe aan die lewe probeer bly, maar so ’n vrou is geestelik morsdood, al lewe haar liggaam nog.

7. Sê dit vir die families sodat hulle nie onnodig die verkeerde dinge doen nie.

8. As iemand nie meer na sy eie mense wil omsien nie en veral nie meer vir sy gesin wil sorg nie, moet hy nie sê dat hy in die Here glo nie. Hy tree slegter op as iemand wat sommer reguit sê dat hy nie in die Here glo nie.

9. Wie kan nou kwalifiseer vir die lys weduwees? ’n Vrou wat 60 is, kan op die lys kom, maar dan moes sy getrou gewees het aan haar man.

10. Sy moet bekend wees vir die goeie lewe wat sy lei. Sy moes mooi na haar kinders gekyk en hulle goed grootgemaak het. Mense moes altyd by haar welkom gevoel het en sy moes altyd gewillig gewees het om ander te dien, al was die takie hoe nederig. Sy moes altyd daar gewees het om te help as iemand hulp nodig gehad het. Die leuse van haar lewe moet wees: doen goed aan ander.

11. Moenie jonger weduwees se name op die lys sit nie. Hulle kan dalk weer trou, want as hulle ’n man begin begeer, kan dit dalk vir hulle belangriker word as om die Here te dien. Dan doen hulle dalk nie meer alles wat die Here van hulle verwag nie.

12. Dan kan mense hulle dalk verwyt omdat hulle hulle woord verbreek het.

13. Boonop kan hulle maklik in die strik trap om net van die een huis na die ander te kuier en eintlik niks te doen nie. As hulle heeldag so rondkuier, mors hulle nie net hulle tyd nie, maar skinder vreeslik en meng hulle in met sake wat niks met hulle te doen het nie. Dan sê hulle ook gewoonlik dinge wat hulle liewer nie moes gesê het nie.

14. Daarom is dit vir my ’n baie beter oplossing dat die jonger weduwees weer moet trou, kinders moet hê en hulle huis behoorlik aan die gang moet hou. Dan sal die mense wat nie van die kerk hou nie, nie allerhande lelike dinge oor hulle kan sê nie.

15. So terloops, daar is al ’n paar weduwees wat so die pad byster geraak het en nou agter Satan aanloop.

16. As ’n Christenvrou weduwees in haar huis het, moet sy self na hulle kyk. Sy moet nie verwag dat die res van die gemeente moet help nie. So sal die gemeente net na die weduwees hoef te kyk wat regtig niemand het om vir hulle te sorg nie.

17. Die gemeente moet vir die leiers in die gemeente wat mooi na die sake van die gemeente kyk behoorlik dankie sê, veral as hulle vir ander van die Here vertel en hulle help om al hoe meer van God se dinge te verstaan. Hulle moet hulle selfs betaal.

18. In die Skrif staan daar mos: “Jy moenie die bees se bek toebind wat besig is om jou met jou koringoes te help nie,” en: “Iemand wat werk, mag ook geld kry vir die werk wat hy doen.”

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 5