hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 4 Die Boodskap (DB)

Wees soos Jesus, ook as jy moet ly

1. Jesus het as mens hier op aarde ook baie gely. As julle swaarkry, moet julle net soos Hy maak. Sy voorbeeld moet julle sterk maak. Iemand wat so swaarkry as mens, hou hom nie meer met die sonde op nie.

2. Sy ingesteldheid in die lewe is anders. Hy hardloop nie die hele tyd agter sy eie neus aan en doen net wat vir hom as mens lekker is nie. Nee, al wat ’n Christen graag die res van sy lewe wil doen, is dit wat God - en nie mense nie - gelukkig sal maak. Kyk net hoe ’n groot deel van julle lewe het julle reeds gemors deur julle op te hou met die dinge van die mense wat God nie ken nie.

3. Ek praat nou van daardie tyd toe julle alle ordentlikheid en reëls oorboord gegooi en net gedoen het waarvoor julle lus was. Julle het julle papdronk gedrink en wilde sekspartytjies gehou. Wat ’n afskuwelike, afgodiese lewe is dit nie!

4. Die mense wat so sonder God leef, vra waarom julle skielik nie meer die lelike dinge saam met hulle geniet nie. Hulle praat baie lelik van julle en sleep julle naam deur die modder. Maar moenie moedeloos word nie.

5. Hierdie mense sal eendag voor God moet gaan staan. Hy sal besluit wat met hulle sal gebeur. Dit maak nie saak of iemand nog leef en of hy al dood is wanneer God kom oordeel nie, almal sal voor God moet staan.

6. Dit is waarom die boodskap van Jesus se oorwinning ook gebring is aan die mense wat reeds dood is. Hulle het wel liggaamlik doodgegaan (wat eintlik ons almal se straf op die sonde is), maar hulle gees sal die lewe kry wat God vir hulle sal gee.

Wees lief vir mekaar

7. Dit is nou nie meer lank voor die wêreld soos ons dit ken tot ’n einde gaan kom nie. Onthou dit elke oomblik en dink daaroor na. Sorg dat julle weet wat aangaan sodat julle sinvol met God kan praat in gebed.

8. Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie. Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie.

9. As iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het, help hom met ’n glimlag sonder om onderlangs te kla of te brom.

10. God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee. Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help. Soos iemand wat in ’n huis aangestel is om ander te bedien, moet julle in God se geestelike huis al die wonderlike gawes onder mekaar uitdeel wat Hy vir ons gegee het sonder dat ons dit eintlik verdien.

11. Byvoorbeeld, as een van julle preek, moet dit wees asof God deur hom praat. As iemand ’n ander persoon help wat hulp nodig het, moet hy dit doen uit die krag wat God hom sal gee. Op dié manier sal almal God se grootheid kan sien en sal Hy die eer vir alles kry, omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het om al hierdie dinge te doen. Almal sal Hom erken as die Een wat in alles groot en sterk is, nie net vandag nie, maar vir ewig en altyd. Daarvan kan julle seker wees.

Christene kry ook partymaal swaar

12. My liewe vriende, as dit so swaar met julle gaan dat julle dit byna nie meer kan hou nie, moenie sommer daaruit aflei dat julle godsdiens daarmee heen is nie. Christene moet ook swaarkry.

13. Dink maar aan Jesus. Hy het baie swaargekry. Julle moet eerder bly en opgewonde wees dat julle soos Hy is, al is dit ook dat julle soos Hy kan swaarkry omdat julle Christene is. Dink net hoe bly julle gaan wees wanneer Hy weer kom en almal dan sien hoe groot en belangrik Hy regtig is.

14. As mense lelik met julle praat omdat julle Jesus s’n is, moet julle bly wees. Dit is vir julle ’n bewys dat God se Gees, wat groot en belangrik is, in julle lewe aan die werk is en dat mense dit raaksien.

15. Dit is egter heeltemal ’n ander saak as julle in die moeilikheid kom omdat julle iemand doodgemaak of ’n ander se goed gesteel het, sommer afstootlik opgetree of net skoor gesoek het.

16. As mense julle egter treiter omdat julle Christene is, hoef julle nie een oomblik skaam te voel nie. Sê eerder vir God dankie en maak sy Naam groot omdat julle Christene genoem mag word.

17. Dit is nou die tyd vir God om soos ’n regter te sê wat Hy van elkeen dink. Hy gaan begin met die gelowiges wat sy kinders is. As selfs ons voor God moet gaan staan soos voor ’n regter in die hof, hoe vreesaanjaend en verskriklik sal dit nie vir dié mense wees wat hulle hele lewe lank die rug vir God en sy goeie boodskap gedraai het nie.

18. As die mense wat volgens God se wil geleef het beswaarlik gered word, wat wag dan nie op die mense wat God misken en sleg geleef het nie?

19. As ’n mens al dié dinge in gedagte hou, moet die mense wat swaarkry omdat dit deel van God se plan met hulle is, Hom heeltemal vertrou met wat in hulle lewe gebeur. God het hulle immers gemaak en sal hulle nie in die steek laat nie. Hulle moet net op die regte pad bly deur goed te doen.