hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 2 Die Boodskap (DB)

Kom na Jesus toe

1. Maak julle lewe skoon. Raak ontslae van slegte en oneerlike dinge. Moenie agter iemand se rug iets anders wees as wat julle voor hom is nie. Jaloesie bring julle niks in die sak nie, en om sleg te praat van ander nog minder.

2. ’n Babatjie wat pas gebore is, is dors vir ’n bietjie melk. Net so moet julle altyd die skoon, geestelike melk wil hê. Dit sal julle geestelik groot en sterk laat word as mense wat God s’n is.

3. Julle het mos al ’n voorsmaak gehad van hoe goed die Here is.

4. Kom na Jesus toe. Ek wil die voorbeeld gebruik van ’n huis wat gebou word. Jesus kan vergelyk word met ’n steen (behalwe dat Hy leef). Die mense wou Hom nie vir die bou van die huis gebruik nie. God het egter daardie Steen tussen al die ander uitgekies. God het geweet dat daardie Steen baie werd is en het Hom op die beste plek in die huis ingebou.

5. Julle moet ook sulke goeie, lewende stene wees sodat God julle in die geestelike huis kan inbou. Dit is maar ’n ander manier om te sê dat julle mense moet wees wat die Here elke oomblik van julle lewe dien. So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel. Doen en gee vir die Here dit waarvan Hy hou, want Jesus maak dit vir julle moontlik.

6. Ons lees in die Skrif dat God lank gelede al gesê het:“Kyk mooi, in Sion bou Ek ’n steen in. Ek self het die steen gekies en dit op die belangrikste plek in die hele gebou gesit. Iemand wat op dié steen vertrou, sal nooit daaroor jammer hoef te wees nie.”

7. As jy op Jesus vertrou, deel jy in hierdie eer van Hom. Vir hulle wat hulle nie aan Hom steur nie, sê die Skrif:“Die steen wat die bouers nie wou hê nie, juis daardie steen het die belangrikste steen in die hele gebou geword.”

8. En:“Hy is soos ’n klip waaroor ’n mens val en soos ’n rots waarteen jy vasloop en val.”Hulle struikel en val, omdat hulle hulle nie aan God se woorde steur nie. Dit kan ’n mens ook van hulle verwag. God het vooraf geweet en besluit dat dit so sou wees.

God het julle spesiaal uitgekies

9. Van julle is net die teenoorgestelde egter waar. God het julle in die besonder vir Hom gekies. Julle is die mense wat Hy aangestel het sodat die groot Koning, God, op ’n besondere manier en reg gedien kan word. God self het julle sy besondere mense gemaak. Julle behoort aan Hom en aan Hom alleen. Daarom moet julle die groot en goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, aan almal vertel. Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is.

10. Voorheen was julle soos boemelaars met wie niemand iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense. Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid regtig beteken nie, maar julle het by God daardie liefde en goedheid leer ken.

11. My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie.

12. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is.

Leef elke dag positief

13. Moenie teen die reëls en wette van julle aardse regeerders in opstand kom nie. Gehoorsaam dit maar, want dan sal die Here nie in die skande gesteek word nie. Dit maak nie saak of die wette uit die hoogste politieke vergaderings kom of

14. van die polisie af wat hier onder ons die kwaaddoeners moet vang en die goeie mense moet beskerm nie.

15. Die Here het ’n plan daarmee as julle elke dag so positief leef. Deur die regte dinge te doen sal julle al die kritiek stilmaak van mense wat lelike dinge oor julle sê. Hulle weet in elk geval nie waarvan hulle praat nie.

16. God het julle vry mense gemaak. Julle moet dit egter nie as verskoning gebruik om te leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee, julle vryheid kan nooit van julle mense maak wat nie in alles na God luister en nie maak soos Hy wil hê nie.

17. Behandel almal met wie julle te doen kry beleefd en gemanierd. Teenoor julle mede-Christene moet julle liefdevol en lojaal wees. Erken en eer God as die groot en magtige Heerser, maar respekteer ook die leier van julle aardse regering.

Wees goeie werkers

18. Julle wat vir ander werk, luister na hulle. Wees goeie werkers en behandel julle meerderes met respek. Dit word nie net van julle verwag as julle werkgewers goed is en julle help nie, maar ook as hulle julle sleg behandel, veral as hulle julle treiter omdat julle Christene is.

19. Wat regtig saak maak, is dat julle liewer maar hierdie onbillike optrede van julle meerderes moet verdra sodat God nie in die gang van sake in die skande gesteek word nie.

20. As julle onder straf deurloop omdat julle verbrou het, het julle dit mos verdien.

21. As julle egter niks verkeerds gedoen het nie en nogtans gestraf word, lyk die prentjie anders. As julle nie dan self lelik begin optree nie, maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees.

Wees soos Jesus, leef soos Jesus

22. As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ’n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het. Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God nie gehou het nie. Wat Hy gesê het, kan julle maar altyd glo.

23. Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur.

24. Jesus het aan die kruis gesterf. Dit het Hy gedoen om die skuld uit die weg te ruim wat julle voor God opgegaar het deur al die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Hy wil egter graag hê dat julle reg sal leef soos God van julle verwag en dat julle nie verkeerde dinge sal doen nie. Om dit so te stel: omdat Jesus vir julle gely het, hoef julle nie self vir julle sonde voor God te betaal nie. Nee, julle hoef slegs voluit vir God te leef.

25. Julle was soos skape wat verdwaal het, maar nou het julle julle pad terug gekry tot by julle Skaapwagter. Hy sal julle goed oppas en mooi vir julle sorg.